Nuus 08:00
BULLETIN 26 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Maleisië en Suid-Afrika het hul verbintenis tot samewerking herbevestig
# Meer as 500 verdagtes is landswyd in hegtenis geneem vir verskeie seksuele misdade
# En rugby: Suid-Afrikaanse spanne presteer uitstekend in ronde 5 van die VRK
# President Cyril Ramaphosa sê Maleisië en Suid-Afrika het hul verbintenis tot die versterking van samewerking onder die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies en Suid-Afrika Sektorale Dialoog-vennootskapsraamwerk herbevestig. Ramaphosa het tydens ‘n amptelike besoek aan Maleisië gepraat. Die president sê Maleisië het ook ingestem om nou saam te werk met Suid-Afrika om gedeelde prioriteite binne ASEAN te bevorder, insluitend die bevordering van streeksvrede, bestendigheid en voorspoed:
Ramaphosa en die Maleisiese premier, Anwar Ibrahim, het ook die gruweldade in Gaza sterk veroordeel. Beide leiers het hul steun vir die Palestynse volk se onvervreembare reg op selfbeskikking en die vestiging van ‘n soewereine en lewensvatbare Palestynse staat herhaal. Ramaphosa sê hulle verwelkom inisiatiewe wat daarop gemik is om ‘n onmiddellike, onvoorwaardelike en permanente wapenstilstand te bereik, insluitend die opheffing van die blokkering van Gaza:
# Die polisie se eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings maak steeds vordering in die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord. Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê die gespesialiseerde eenhede het tussen 13 and 19 Oktober gesamentlik 534 verdagtes regoor die land in hegtenis geneem vir verskeie seksuele misdade, insluitend verkragting, seksuele aanranding, poging tot verkragting en ander verwante oortredings. Gedurende dieselfde tydperk is 13 tot lewenslange tronkstraf gevonnis en ‘n bykomende 448 jaar gevangenisstraf is opgelê vir veroordeelde seksuele oortreders:
# Agt voormalige ActionSA-raadslede van die Stad Johannesburg het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Johannesburg ingedien, wat Dinsdag aangehoor sal word. Die aansoekers se woordvoerder, Elmari Atterbury, sê hulle vra vir ‘n interdik wat ActionSA sal verhinder om die raadslede te vervang, hangende die uitslag van ‘n dispuut rakende hul betwiste ontslag uit die raad. Sy sê die raadslede hou vol dat hul verwydering sonder prosedure en polities gemotiveerd was, en sonder dat die regte proses gevolg is:
# Oekraïne se Europese bondgenote sê bevrore Russiese bates moet vinnig gebruik word om steun vir Kiëf te befonds. Dit is een van verskeie maatreëls wat in Londen bespreek is om die druk op Vladimir Putin te verhoog. Die Britse premier Keir Starmer het die gesprek met president Volodymyr Zelensky en ander leiers aangebied en ‘n reeks pogings bespreek, insluitend die verwydering van Russiese olie en gas uit die wêreldmark en die verskaffing van meer langafstandmissiele aan Kiëf. NAVO-hoof Mark Rutte sê president Donald Trump oorweeg steeds of Tomahawk-missiele na Oekraïne gestuur moet word.
# En rugby: Drie van die vier Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap was gister seëvierend. Die Stormers het hul onoorwonne rekord voortgesit om Bennetton gisteraand met 31-16 in Treviso, Italië, te klop en bo-aan die punteleer te bly. Vroeër het die Leeus sewe drieë teen Ulster op Ellispark gedruk en die Ierse span met 49-31 geklop. Die Haaie het hul wenlose veldtog beëindig en ‘n bonuspunt-oorwinning van 29-19 oor die Scarlets op Kings Park behaal. In hul wegwedstryd teen die Glasgow Warriors is die Bulle met 21-12 geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….