Nuus 18:00
BULLETIN 23 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie vermeende ontvoerders word in Parktown, Johannesburg, doodgeskiet
# Getuie C sê Matlala het die name van senior polisie-offisiere gebruik om ondersoekers te intimideer
# En rugby: Die Bulle appelleer teen die swaar straf van hulle Springbok-voorspeler Jan-Hendrik Wessels
# Drie vermeende ontvoerders is doodgeskiet tydens ‘n onderonsie met Gauteng se polisie in Parktown, Johannesburg. Die polisie sê die mans word verbind met die ontvoering van ‘n Chinese burger in Junie en het onlangs probeer om ‘n ander sakeman te ontvoer. Owerhede het hul voertuig onderskep terwyl hulle na bewering op pad was om ‘n rooftog te pleeg, wat tot die dodelike skietery gelei het. Die polisie het intussen met verdere ondersoeke begin na die ontvoeringsindikaat wat vermoedelik in die provinsie bedrywig is.
# Beskuldigde nommer-een in die Senzo Meyiwa-moordverhoor, Muzi Sibiya, ontken alle betrokkenheid of teenwoordigheid in die Basotho-hostel op 26 Oktober 2014. Sibiya hou vol dat die getuienis teen hom verkeerd is en verwerp die bewerings in sy skuldbekentenis. Sibiya sê deur ‘n tolk in die Hooggeregshof in Pretoria dat hy nooit saam met die ander beskuldigdes was of die moord op die gewese kaptein van Bafana Bafana help beplan het nie:
# Getuie C het aan die Madlanga-kommissie gesê die tendermagnaat van die Tembisa-hospitaal, Vusimuzi “Cat” Matlala, het tydens ‘n klopjag by sy huis in Centurion in Desember verlede jaar senior polisiebeamptes by name genoem. Die lid van Teenintelligensie sê Matlala het die name genoem van die adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, die hoof van georganiseerde misdaad, Richard Shibiri, en die intelligensiehoof, Feroz Khan, oënskynlik in ‘n poging om ondersoekers te intimideer:
# AfriForum sê onlangse inbrake by die Militêre Basis De Brug in die Vrystaat, waar plofstof en ammunisie gesteel is, toon Suid-Afrika se militêre basisse is swak beveilig en kwesbaar vir misdaad. Jacques Broodryk van die organisasie vra die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, en die leierskap van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om ten volle deursigtig te wees oor die diefstalle en maatreëls uiteen te sit om verdere voorvalle te voorkom:
# Rugby: Die Bulle appelleer teen hulle Springbok-voorspeler Jan-Hendrik Wessels se swaar skorsing van nege weke ondanks ‘n oënskynlike gebrek aan duidelike bewyse. Hy is gestraf nadat Connacht se flank, Josh Murphy, hom daarvan beskuldig het dat hy hom tydens verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die bene gegryp het. Die Bulle sê geen nuwe videobewyse is tydens die dissiplinêre verhoor aangebied nie, en Wessels is blykbaar geskors op grond van dieselfde beeldmateriaal waaruit die skeidsregters geen bewyse van vuilspel kon bepaal nie. Indien die skorsing gehandhaaf word, is sy seisoen verby.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-en-68-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….