Nuus 16:00
BULLETIN 24 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bheki Cele waarsku Suid-Afrika is onder beleg van die groeiende toestroming van dwelms
# ‘n Ekonoom sê Suid-Afrika benodig ‘n gewaagde nuwe bloudruk vir volhoubare groei
# En drie munisipaliteite sluit aan by AfriForum se hofgeding teen Nersa oor krag-tariewe
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, sê Suid-Afrika is onder beleg van ‘n groeiende toestroming van dwelms, en skryf dit toe aan deurlaatbare grense en ‘n tekort aan skandeerders. Cele sê die land het ‘n transito-kern en ‘n winsgewende mark vir dwelmsindikate geword, met arm jeugdiges as die hoofslagoffers. Hy vra strenger wetstoepassing en howe, en ‘n verenigde maatskaplike benadering om die dwelmkrisis aan te pak:
# ‘n Ekonoom van Aluma, Frederick Mitchell, sê Suid-Afrika se toekoms hang af van beslissende optrede vir ekonomiese vryheid, eiendomsreg en beperkte regeringsingryping. Die graderingsagentskap Moody’s het gewaarsku dat die huidige pogings onvoldoende is om die land te stuur na die regering se ambisieuse teiken van jaarlikse groei van 3,5-persent teen 2030. Mitchell sê die ontsluiting van die land se 1,8-duisend-miljard-rand in sakekontantreserwes, die hervorming van die regulatoriese raamwerk en die uitbreiding van handelsgeleenthede is nie bloot voorstelle nie; dit is noodsaaklikhede.
# Suid-Afrika se bootboubedryf word gevra om dringend plaaslike vaardighede te ontwikkel en internasionale onderdele-vervaardigers te lok. Die uitvoerende hoof van Ullman Sails International, Michael England, het op die Afrika-bootkonferensie in Kaapstad gesê afhanklikheid van duur invoere uit Amerika, die Europese Unie en China bedreig volhoubaarheid. Hy vra ‘n behoorlike opleidings-gerief om jongmense toe te rus vir mariene-vervaardiging. Intussen het Nicole van de Wall van Two Oceans Marine kommer uitgespreek en hoë personeelomset en beperkte kundigheid as hindernisse vir bedryfsgroei uitgewys.
# AfriForum het bevestig dat die Stad Kaapstad, die Johannesburgse Metro en Mogale City-munisipaliteit by hul Hooggeregshof-saak in Pretoria teen Nersa aangesluit het. Die munisipaliteite steun Nersa in die saak. Die burgerregtegroep betwis die reguleerder se goedkeuring van munisipale elektrisiteitstariewe sonder behoorlike koste-van-voorsieningstudies of voldoende openbare deelname. Nersa erken dat hul proses onvoldoende openbare betrokkenheid toegelaat het. Deidré Steffens van AfriForum vra deursigtige voorleggings- en besluitnemingstydlyne vir toekomstige tariefaansoeke:
# Motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sê die McLaren-renjaers, Oscar Piastri van Australië en die Brit Lando Norris, sal alles moet uithaal in die stryd vir die bestuurderskampioenskap met Max Verstappen. Daar is ‘n verskil van net 14 punte tussen Piastri en Norris, met Verstappen wat nou net 40 punte agter die voorloper is ná drie seges en ‘n tweede plek in die laaste vier wedrenne. Hamilton sê die Nederlander sal die kampioenskap wen as Piastri en Norris nie genadeloos is nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-en-66-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-62-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….