Goeie Nuus
BULLETIN 24 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Durbanse fotograaf Chris Clark het wêreldwye aandag getrek na sy foto van twee seilbote wat reusegolwe trotseer, as een van die top 120 finaliste in die gesogte Pantaenius-Seiljagwedvaart fotokompetisie gekies is. Clark, ‘n inwoner van Hillcrest en lid van die Hillcrest-kameraklub, het die foto tydens die Marriott Mirror Worlds-regatta in April geneem. Hy was voorheen ‘n mededingende seiljagvaarder, maar sy passie is nou fotografie. Die publiek kan tot 14 November vir hulle gunsteling-foto stem, met die beste inskrywings wat volgende maand in Amsterdam, Nederland, ten toon gestel sal word.
# Masslift Africa het 208-duisend-rand aan die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg geskenk om die volgende geslag op te hef en te bemagtig. Dit is een van die enigste toegewese pediatriese geriewe in Suider-Afrika. Masslift Africa se uitvoerende hoof, Marco Caverni, sê die hospitaal is ‘n simbool van hoop en deernis, en dis ’n voorreg om hul werk te ondersteun. Die hospitaal se uitvoerende hoof, Nkuli Bokhutso, sê bydraes soos hierdie onderhou bedrywighede en herinner die jong pasiënte dat hulle geliefd is en nooit vergeet sal word nie.
# Marriott International het kragte saamgespan met FoodForward SA om Suid-Afrika se dringende voedselonsekerheid te hanteer. Die vennootskap het daartoe gelei dat meer as 25 Marriott-vrywilligers van ses hotelle bokse met stapelvoedsel by FoodForward-geriewe in Kaapstad en Johannesburg verpak het. Elke boks van 20 kilogram voed ‘n gesin van vier vir ‘n maand, wat help om oormaatvoedsel te herlei na diegene wat dit die nodigste het. Dorcas Dlamini Mbele van Marriott International sê hierdie veldtog vorm deel van hul wêreldwye verbintenis tot volhoubaarheid en gemeenskapsuitwerking.
# Die munisipaliteit van George in die Wes-Kaap bied gratis permitte aan die gasvryheidsbedryf met bykomende vloerruimte vir hul tafels ter voorbereiding vir die vakansieseisoen. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Ntobeko Mangqwengqwe, sê hulle beoog om ondernemings in die gasvryheidsbedryf te help herstel en van die warmer weer gebruik te maak en ‘n feestelike atmosfeer te skep:
# En ten slotte: Asterix se nuutste tekenprentavontuur wat gister vrygestel is, word in 19 tale en in 25 lande gepubliseer terwyl dit die ontembare Galliese kryger na antieke Portugal wegvoer. “Asterix in Lusitania” is die 41ste aflewering van die legendariese Franse strokiesprentreeks, wat hom na die verste uithoeke van die Romeinse Ryk neem. Soos gewoonlik word hy vergesel van sy getroue handlangers, Obelix en Dogmatix, op ‘n sending om ‘n kleinskaalse garum-produsent te red wat daarvan beskuldig word dat hy Julius Caesar met sy gefermenteerde vissous vergiftig het, en na die leeukuil op pad is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….