Eko-minuut 13:30
BULLETIN 24 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Vier olifante is opgemerk naby Zutshwa in die Kgalagadi-streek in Botswana, net 70-kilometer vanaf die Kgalagadi-oorgrenspark op die grens met die Noord-Kaap. Dis die naaste waarneming aan die park in byna ‘n dekade. JP Smith van SANParke sê Botswana se Departement van Natuurlewe en Nasionale Parke het die waarneming bevestig, wat ʼn verskuiwing in migrasiepatrone kan beteken. Hy waarsku besoekers om in hul voertuie te bly, die reëls na te kom en aan te meld as hulle olifante gewaar om mense en die natuur se veiligheid te verseker.
# Die Universiteit van die Witwatersrand is gekies as een van 15 spanne wêreldwyd om befondsing te kry van die Bezos-aardfonds se Kunsmatige Intelligensie vir Klimaat- en Natuur-uitdaging. Dis verlede jaar bekend gestel met die uitdaging om die krag van KI te gebruik om die dubbele krisis van klimaatverandering en verlies aan bioverskeidenheid te takel. Wits het 31,1-miljoen-rand se befondsing ontvang vir sy Creating FineCas, KI-gedrewe toerusting vir weervoorspelling in Afrika om die akkuraatheid en lokalisering van weervoorspellings te verbeter. Die 15 wenprojekte is uit vyf vastelande.
# En die Africa CSO G20-netwerk vir klimaat, energie en volhoubare finansiering eis dringende optrede na die bekendmaking van die tweede Global Tipping Points-verslag. Daarvolgens het die wêreld reeds die eerste groot klimaat-keerpunt verbygesteek met die wydverspreide agteruitgang van warmwater-koraalriwwe. Die ACG20 sê drie onmiddellike, nie-onderhandelbare stappe is nodig: sterker bekampingspogings, ʼn reuse-styging in die finansiering vir klimaataanpassing, en die stigting van ʼn funksionerende skade-instelling wat vergoeding voorsien vir die onherstelbare skade wat reeds plaasgevind het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….