Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Bulle- en Springbok-haker Jan-Hendrik Wessels is vir nege wedstryde geskors na ‘n voorval tydens verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Connacht. Connacht se flank, Josh Murphy, het Wessels twee keer geslaan in ‘n losskrum en Wessels later daarvan beskuldig dat hy hom tussen die bene gegryp het. ‘n Tugkomitee het die 24-jarige skuldig bevind aan vuilspel, maar hy mag appelleer. Wessels sal die Bokke se November- toer in Europa misloop waar hulle teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis te staan kom.
Die eerste deel van die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen word hierdie naweek afgesluit. Uit ‘n Suid-Afikaanse oogpunt speel die Bulle vanaand in Skotland teen Glasgow Warriors terwyl die Leeus Ulster môre in Johannesburg pak. Die Haaie verwelkom Scarlets in Durban en die voorloper op die punteleer, die Stormers, speel in Italië teen Benetton. Die Bulle is tans sesde op die punteleer, die Leeus 11de en die Haaie 14de. Die VRK kry na hierdie naweek ‘n blaaskans vir volgende maand se toetse en hervat die laaste naweek van November.
# Krieket: Die ervare kolwer David Miller sal die T20-reeks teen Pakistan misloop, terwyl die snelbouler Gerald Coetzee nie in die T20s of die eendagreeks sal speel nie. Miller is as kaptein vir die T20’s aangewys terwyl Aiden Markram ruskans kry, maar het nou ‘n beenbesering opgedoen. Donovan Ferreira sal die span lei. Coetzee is weens ‘n borsspierbesering weggelaat. Tony de Zorzi maak sy T20-buiging nadat hy in die toetsreeks beïndruk het, terwyl Matthew Breetzke die eendagspan sal aanvoer.
Nog krieket: Indië het Nieu-Seeland in Navi Mumbai met 53 lopies geklop volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode en hul plek in die halfeindronde van die Vroue-Wêreldbekertoernooi verseker. Pratika Rawal het haar eerste Wêreldbeker-honderdtal van 122 lopies aangeteken terwyl Smriti Mandhana 109 bygedra het om Indië se telling na 340 vir drie te neem in ‘n reën-ontwrigte wedstryd. Nieu-Seeland kon net antwoord met 271 vir agt terwyl hulle ʼn hersiene teiken van 325 in 44 boulbeurte moes haal. Hulle is uit die halfeindrondewedloop met een wedstryd oor.
# En padwedlope: Die wêreldrekordhouer in die marathon vir vroue, Ruth Chepngetich van Kenia, is vir drie jaar geskors nadat sy erken het sy het ‘n verbode middel gebruik. Die 31-jarige is in Julie voorlopig geskors toe die Atletiek-integriteitseenheid ‘n ontwateringsmiddel in haar uriene gevind het in ‘n monster wat in Maart geneem is. Die eenheid ondersoek nou verdagte materiaal wat op haar selfoon gevind is om te sien of ander oortredings begaan is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….