Nuus 07:00
BULLETIN 24 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verwelkom die Internasionale Geregshof se bevindinge oor Israel
# Zelensky sê Oekraïne sal nie grond vir vrede met Rusland verruil nie
# En rugby: Die Bulle- en Springbok-haker Jan-Hendrik Wessels is vir nege wedstryde geskors
# Suid-Afrika het die Internasionale Geregshof se raadgewende mening oor Israel se verpligtinge in Gaza verwelkom. In sy niebindende mening sê die hof Israel is verplig om die Verenigde Nasies en sy instellings se lewering van humanitêre hulp in die Gaza-strook te fasiliteer. Die hof het ook bevind Israel het nie sy bewerings oor UNRWA se vermeende partydigheid bewys nie. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die hoeksteen van blywende vrede en bestendigheid in die streek hang volgens hom af van die erkenning van die Palestyne se reg op selfbeskikking.
# Build One South Africa doen ‘n beroep vir die dringende skepping van ‘n openbaar-toeganklike digitale register van alle regerings- en staatsbeheerde diensverskaffers. Die oproep volg ná onthullings deur die Madlanga-kommissie in Pretoria, wat wydverspreide tenderkorrupsie uitlig. BOSA se adjunkleier Nobuntu Hlazo-Webster sê die register sal besteding deursigtig maak, korrupsie stop en die publiek toelaat om amptenare en verskaffers aanspreeklik te hou:
# Die DA in Tshwane sê burgemeester Nasiphi Moya se verduideliking oor die 777-miljoen-rand wat die metro in die 2024/2025-boekjaar aan watertenkwaens bestee het, laat groter vrae ontstaan. Die burgemeester sê die syfer is nie akkuraat nie omdat dit die totale waarde van aankoopbestellings en nie die ware besteding weerspieël nie. Cilliers Brink van die DA sê Moya se jongste weergawe ontken nie buitensporige besteding nie, maar blameer vorige administrasies vir ‘n gedeelte daarvan:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sy land sal nie toegewings oor grondgebied aanvaar as deel van vredesonderhandelings met Rusland nie. Moskou wil beheer behou oor die Krim en vier ander streke van Kiëf, waaroor Russiese magte nie volle beheer het nie. Zelensky sê die Russiese bates van honderde miljarde dollars wat die Europese Unie bevries het, moet gebruik word om wapenvervaardiging in Oekraïne, Europa en hul bondgenote te ondersteun:
# Rugby: Die Bulle- en Springbok-haker Jan-Hendrik Wessels is vir nege wedstryde geskors, wat voortspruit uit ‘n voorval tydens ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen Connacht verlede naweek. In die wedstryd het Connacht-flank, Josh Murphy, Wessels twee keer in ‘n losskrum geslaan en die Bulle-speler later daarvan beskuldig dat hy hom tussen die bene gegryp het. ‘n Tugkomitee het die 24-jarige skuldig bevind aan vuilspel. Die Bulle het die reg om te appelleer. Wessels sal die Bokke se toer na Europa volgende maand misloop, waar hulle teen Japan, Frankryk, Italië, Ierland en Wallis te staan kom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-339-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Asterix se nuutste tekenprentavontuur wat gister vrygestel is, word in 19 tale en in 25 lande gepubliseer terwyl dit die ontembare Galliese kryger na antieke Portugal wegvoer. “Asterix in Lusitania” is die 41ste aflewering van die legendariese Franse strokiesprentreeks, wat hom na die verste uithoeke van die Romeinse Ryk neem. Soos gewoonlik word hy vergesel deur sy getroue handlangers, Obelix en Dogmatix, en hy is op ‘n sending om ‘n kleinskaalse garum-produsent te red wat daarvan beskuldig word dat hy Julius Caesar met sy gefermenteerde vissous vergiftig het, en na die leeukuil op pad is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….