Nuus 17:00
BULLETIN 23 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Agt geskorste leerders van Milnerton High School verskyn in die hof oor ‘n boelie-voorval
# Cele beklemtoon geen opdrag is tydens sy ampstermyn gegee om die politieke moorde-taakspan te ontbind nie
# En rugby: Die Ierse skrumskakel Jamison Gibson Park beskou die toets teen die All Blacks as ‘n broederlike wedywering
# Ses tieners van Milnerton High School wat verbind word met ‘n gewelddadige boelievoorval het vandag in die Kaapstadse Landdroshof verskyn nadat hulle hulself vanoggend aan die polisie oorgegee het. Nog twee minderjarige leerders het in die Jeughof verskyn. Die leerders staan tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in verband met ‘n wydverspreide video waarin gewys word hoe ‘n graad 10-leerder geslaan word. Die saak is uitgestel tot volgende Donderdag.
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, ontken dat hy ooit die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde tydens sy ampstermyn gemagtig het. Cele het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die span was steeds aktief voor verlede jaar se verkiesing en dat geen besluit om dit te ontbind, geneem is nie. Hy het die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se bewering van ontbinding sedert 2022 bevraagteken, en aangedring dat ‘n besluit op 5 September die taakspan se voortbestaan bevestig het:
# Build One South Africa sê ses-miljard-rand se munisipale water- en sanitasiefondse is oor die afgelope vyf jaar nie bestee nie, wat veroorsaak dat miljoene Suid-Afrikaners sonder betroubare toegang tot skoon water is. Die party waarsku regeringswanbestuur vererger die waterkrisis, veral in die Oos-Kaap, Limpopo en Gauteng. BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, het in die Parlement gevra vir dringende oudits, openbare bekendmaking van munisipaliteite wat misluk het, en verantwoordbaarheid vir amptenare en kontrakteurs:
# Rugby: Ierland se Nieu-Seelands-gebore skrumskakel, Jamison Gibson-Park, beskryf volgende naweek se toets teen die All Blacks in Chicago in Amerika as broederlike wedywering. Hy het in 2019 gekwalifiseer om Ierland te verteenwoordig nadat hy drie seisoene vir Leinster gespeel het, en het sedertdien sy aangenome land in 43 toetse verteenwoordig. Gibson-Park sê hy wil altyd deel van hierdie tweestryd wees. Na hierdie wedstryd, speel Ierland tuis teen Japan, Australië en die Springbokke op agtereenvolgende naweke.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-109-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-148-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-96-sent per vat.
# En Afrika se vermaaklikheids- en mediasektor sal na verwagting die wêreldwye ekonomiese groei tussen 2024 en 2029 oortref. Volgens ‘n PwC-verslag, Africa Entertainment and Media Outlook 2025–2029, lei Nigerië met ‘n groeikoers van 7,2-persent, terwyl Suid-Afrika met 3,5-persent en Kenia met 5,2-persent volg. PwC beklemtoon ‘n groot digitale verskuiwing wat aangevuur word deur mobiele platform-eerste verbruik, jeugbetrokkenheid en vernuwring met kunsmatige intelligensie. Nigerië se digitale advertensiebesteding sal na verwagting teen 2029 84-persent bereik, wat Afrika se transformasie tot ‘n globale digitale kragbron aandui.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….