Nuus 16:00
BULLETIN 23 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cele veroordeel die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde
# Rusland sê hy is immuun teen nuwe Amerikaanse oliesanksies
# En tennis: Alcaraz en Sinner pak mekaar in Januarie in ‘n vertoonwedstryd in Suid-Korea
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, het die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde as ‘n groot terugslag beskryf. Hy het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê hy het van die besluit gehoor deur ‘n brief van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu. Cele het ook sy skok uitgespreek nadat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, ‘n misdadiger genoem het. Cele het ook gesê sommige besluite oor geheime operasies is nie onder ministeriële beheer nie:
KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, het inwoners intussen gevra om die polisie te ondersteun in hul pogings om misdaad te bestry en gemeenskapsveiligheid te verseker. Ntuli het tydens die provinsie se beleggingskonferensie in Durban vir Mkhwanazi, geprys vir sy onbevooroordeelde diens. Ntuli beklemtoon veiliger stede is noodsaaklik om beleggers na die provinsie te lok:
Nuus uit die buiteland:
# Rusland sê nuwe Amerikaanse sanksies teen sy oliebedryf loop gevaar om diplomatieke pogings te benadeel om die oorlog in Oekraïne te beëindig, en dat hy immuun is daarteen. China het ook aangekondig dat hy Amerika se sanksies op die twee grootste Russiese oliemaatskappye teenstaan en sê dit het geen basis in internasionale reg nie. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die maatreëls gister aangekondig nadat planne vir ‘n nuwe beraad met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, misluk het. Trump kla dat gesprekke met Putin op niks uitloop nie.
# Tennis: Die wêreld se twee topspelers, die Spanjaard Carlos Alcaraz en die Italianer Jannik Sinner, sal volgens berigte aan die begin van 2026 se seisoen ‘n vertoonwedstryd in Suid-Korea seel. Tydens vorige wedstryde het spelers soos Rafael Nadal en Roger Federer, Novak Djokovic en Andy Roddick, en Venus Williams en Maria Sharapova teen mekaar gespeel. Die wedstryd sal op die 10de Januarie in Seoel plaasvind. Alcaraz het tot dusver 10 uit sy 15 ontmoetings met Sinner op die ATP-toer gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-182-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-105-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Pick n Pay se ‘Voed die Nasie’-projek wat tydens die Covid-19-pandemie ontstaan het, het die afgelope vyf jaar meer as 215-miljoen-rand se kos uitgedeel, met meer as 45-miljoen maaltye aan persone en gesinne in die land. Die projek het gefokus op huishoudings met ‘n kind aan die hoof en het landwyd meer as 600 skole bygestaan. Pick n Pay se uitvoerende hoof, Sean Summers, sê met behulp van personeel, verskaffers, vennote en klante kon hulle noodsaaklike verligting aan gemeenskappe lewer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….