Goeie Nuus
BULLETIN 23 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Mej Heelal Suid-Afrika, die 29-jarige gewese model en rolprent- en televisievervaardiger Melissa Nayimuli, gaan Suid-Afrika volgende maand verteenwoordig op die Mej Heelal-kompetisie in Thailand. Sy is in Butterworth in die Oos-Kaap gebore en haar ma is Xhosa en haar pa Ugandees. Nayimuli het in 2020 aan die Mej Suid-Afrika-kompetisie deelgeneem, maar nie gewen nie, maar het in 2023 onder die top-vyf geëindig. African Beauty International sê Nayimuli sal ‘n boodskap van hoop, eenheid, insluiting en hervorming in Thailand dra.
# Die gemeenskaps-aktivis Zolani Zondani het die sowat 800-kilometer van Gqeberha na Kaapstad gestap in ‘n bewusmakingsveldtog wat fokus op geestesgesondheidkwessies wat mans raak. Hy het die staptog Broski – Die Lewende Ervaring genoem en sê dit was nie net ‘n toets vir uithouvermoë nie, maar ‘n doelgerigte sending. Hy het ook fondse ingesamel vir sy organisasie sonder winsbejag, Broski. Zondani sê hy wil veilige ruimtes vir mans skep waar hulle hul kwesbaarheid kan uitdruk en hul stryd kan deel.
# Pick n Pay se ‘Voed die Nasie’-projek wat tydens 2020 se Covid-19-pandemie ontstaan het, het die afgelope vyf jaar meer as 215-miljoen-rand se kos uitgedeel, met meer as 45-miljoen maaltye aan mense en gesinne in die land. Die projek het gefokus op huishoudings met ‘n kind aan die hoof en het landwyd meer as 600 skole bygestaan. Pick n Pay se uitvoerende hoof, Sean Summers, sê met behulp van personeel, verskaffers, vennote en klante kon hulle noodsaaklike verligting aan gemeenskappe lewer.
# Vanjaar se Cape Spring Xperience, ‘n opwindende leefstyl en musiekgeleentheid in Kaapstad, gaan ‘n kleurvolle viering wees met verskeie lewende optredes. Die tema is Pastel and Floral. Van die kunstenaars wat gaan optree, is Zonke, Big Zulu, DJ Zinhle, Bravo le Roux, Jaziel Brothers, Mshay en Ismail Abrahams. Die organiseerders sê gaste kan uitsien na ‘n dag met uitstekende musiek, heerlike kos, plaaslike wyn, leefstyl-bedrywighede en eksklusiewe BBP-ondervindings. Cape Spring Xperience word Saterdag op die Kenilworth-renbaan gehou.
# En ten slotte: Die reispublikasie Lonely Planet’s Best in Travel het die 25 mees gesogte bestemmings aangewys om in 2026 te besoek. Onder hulle is die Liberdade-distrik in São Paulo, ook genoem “klein Japan” waar anime-geïnspireerde straatkuns en ramen van wêreldgehalte die Japanse erfenis in Brasilië belig. Mexicostad kry ook groot lof vir sy plekke om te stap, ryk geskiedenis en kunsbuurte soos Coyoacán en La Roma. In Afrika het Botswana en Tunisië die lys gehaal. Die uitvoerende redakteur van Lonely Planet, Nitya Chambers, sê vanjaar se keuses inspireer betekenisvolle en weldeurdagte reis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….