Nuus 08:00
BULLETIN 23 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bheki Cele sal vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig
# Die Openbare Beskermer bevind die misdaadvoorkomingsbewaarders is onreëlmatig
# En Olimpiese Spele: Die IOK wil geen sportbyeenkomste in Indonesië hê na hul verbod op Israelse atlete nie
# Die parlementêre ad hoc-komitee sal vandag en môre getuienis van ‘n nuwe getuie, die gewese minister van Polisie, Bheki Cele, aanhoor. Die komitee ondersoek bewerings dat misdadigers Suid-Afrika se wetstoepassing, politiek en privaat ondernemings geïnfiltreer het. Cele sal na verwagting lig werp op die 2019-werkstudie wat ʼn nuwe SAPD-struktuur gestig het sonder die taakspan oor politieke moorde, en wat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gebruik as regverdiging vir die taakspan se afdanking.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê die regering gaan ʼn nuwe raamwerk bekendstel om hoë-integriteit koolstofmarkte in Suid-Afrika te lei en uit te brei. Die Konsepplan vir Koolstofkrediet-inkomste sluit volhoubare inkomste in deur die land se woude, vleilande, oseane en beskermde landskappe te verander in hoë-integriteit koolstofkrediete en die land se leierskap in klimaatsvernuwing te versterk. George sê die konsepraamwerk se doelwit is om ʼn bemagtigende omgewing te skep vir aanneemlike, deursigtige en maatskaplik-insluitende koolstofmarkaktiwiteit.
# Die Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka het bevind die instelling en ontplooiing van Gauteng se misdaadvoorkomingsbewaarders was onregmatig en ongrondwetlik. Die Openbare Beskermer het haar verslag gisteraand bekendgemaak, ure nadat premier Panyaza Lesufi aangekondig het die bewaarder-eenheid sal geleidelik ontbind word. ʼn Klag deur advokaat Paul Hoffman het tot die ondersoek gelei. Gcaleka het aan Newzroom Afrika gesê die wet gee geen provinsiale regering die magtiging of bevoegdheid om polisiëringsmagte toe te pas nie:
# Israel het die Internasionale Geregshof se jongste raadgewende mening verwerp en noem dit ʼn politieke dokument. Die hof sê in sy nie-bindende mening Israel is verplig om die lewering van die Verenigde Nasies en sy instellings se humanitêre hulp in die Gaza-strook te fasiliteer. Die doel is om in die basiese behoeftes van Palestynse burgerlikes te voorsien. Israel se ambassadeur by die VN, Danny Danon, sê die hof se mening is skandelik:
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het Indonesië se weiering om Israelse atlete toe te laat om weens die land se militêre veldtog in Gaza aan die Wêreld-gimnastiekkampioenskap in Jakarta deel te neem, veroordeel. Die IOK sê in sy reaksie alle internasionale sportfederasies sal aangesê word om geen geleenthede of vergaderings in Indonesië aan te bied nie. Die komitee het ook besluit om enige dialoog met Indonesië se Nasionale Olimpiese Komitee oor die aanbieding van die 2030 Jeug-spele en die 2036 Olimpiese Spele te staak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-731-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-95-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….