Nuus 18:00
BULLETIN 22 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie B onthul ‘n ballistiese inskrywing is verwyder op die dag van Katiso “KT” Molefe se inhegtenisneming
# Die Hooggeregshof in Pretoria beslis Zuma moet 28,9-miljoen-rand se regskoste terugbetaal
# En rugby: Mapimpi gaan die Bokke se jaareind-toer misloop na hy vir vyf wedstryde geskors is
# Getuie B het aan die Madlanga-kommissie gesê ‘n belangrike inskrywing in die ballistiese databasis is op 6 Desember verwyder nadat dit vuurwapens wat in die moord op die ingenieur Armand Swart gebruik is, met ander misdade verbind het. Dit was dieselfde dag waarop die sakeman Katiso “KT” Molefe aangekeer is. B sê dit was moontlik doelbewus, te midde van spanning oor toegang tot laboratoriums en ‘n vals ontvoeringsbeskuldiging van ‘n ballistiese kenner, wat later gehelp het om die vermiste data te herwin:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het oudpresident Jacob Zuma beveel om meer as 28,9-miljoen-rand se regskoste terug te betaal wat onregmatig deur die staat befonds is vir sy persoonlike verdediging teen korrupsie-aanklagte. Regter Anthony Millar het ook beslis hy moet die staatsadvokaat rente betaal. Indien die bedrag nie binne 60-dae vereffen word nie, kan daar beslag gelê word op Zuma se bates en dit kan verkoop word, insluitend sy presidensiële pensioen. Die staatsadvokaat moet kwartaalliks verslag doen oor hoe die invordering verloop. Zuma bly aanspreeklik vir die regskoste.
# Die Suid-Afrikaanse publiek het 30 dae tyd om kommentaar te lewer op die DA se voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Openbare Verkryging, wat daarop gemik is om die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging te herroep. Die DA probeer om rasvereistes te vervang met ‘n uitkomsgefokusde benadering om doeltreffendheid en breër ekonomiese insluiting te bevorder. DA-beamptes voer aan dat die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging enkeles verryk het terwyl miljoene in armoede oorleef. Die wetsontwerp het kritiek ontlok van die ANC en die GOOD-party, wat waarsku dat dit pogings ondermyn om ekonomiese ongelykheid uit die weg te ruim.
# Solidariteit vra die Departement van Basiese Onderwys om die huidige nasionale norme en standaarde vir skoolbefondsing te hersien omdat die bestaande kwintiel-klassifisering nie die ware maatskaplik-ekonomiese omstandighede weerspieël nie. Volgens ʼn verslag deur die organisasie se Navorsingsinstituut het die toekenning per leerder in kwantiel 5-skole in Gauteng van sowat 900- tot 315-rand gedaal. Johnell Prinsloo van Solidariteit sê die besnoeiing van 65-persent gaan na raming meer as 750 skole raak:
# Rugby: Die vleuel Makazole Mapimpi sal die Springbokke se jaareind-toer misloop weens sy skorsing van vyf wedstryde vir vuilspel tydens die Haaie se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ulster in Durban. Hy was op afrigter Rassie Erasmus se bystandlys vir die toer van vyf toetse in die noordelike halfrond, wat volgende Saterdag in Londen teen Japan begin. Die tugkomitee het Mapimpi oorspronklik vir ses weke geskors, maar dit is verminder nadat hy skuldig gepleit het aan ‘n boorvat en sy straf aanvaar het. Dit was sy tweede rooikaart vanjaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-208-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-53-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….