Nuus 07:00
BULLETIN 18 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oxfam-studie onthul die harde werklikheid van rykdomsongelykheid in Suid-Afrika
# Lawyers for Human Rights verwelkom die uitspraak dat ID-blokkering deur Binnelandse Sake ongrondwetlik is
# En krieket, die Paarl Royals het nou drie seges uit drie, terwyl die Super Kings nog moet wen
# Die liefdadigheidsorganisasie Oxfam sê die harde werklikheid van rykdomsongelykheid is duidelik in Suid-Afrika aangesien die rykste een-persent, meer as 95-persent van sekerheid en aandele behou, terwyl ‘n verstommende 62,7-persent van hierdie bates deur die rykste 0,01-persent besit word. Oxfam se jongste inligting, “Inequality Inc,” beklemtoon die geweldige ongelykheid, en die konsentrasie van rykdom in die hande van ‘n paar mense wat ekonomiese verdeeldheid vererger. Die verslag beklemtoon die dringende behoefte aan regeringsingryping om die privaat sektor te reguleer en te herstruktureer, en ‘n regverdiger verspreiding van hulpbronne binne die land te bevorder.
# Lawyers for Human Rights het die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria se beslissing verwelkom dat die Departement van Binnelandse Sake nie langer Suid-Afrikaanse ID’s na willekeur mag blok nie. Minister Aaron Motsoaledi en direkteur-generaal Livhuwani Makhode is deur Phindile Mazibuko en burgerregte-organisasies aangevat nadat die departement met ‘n veldtog begin het om ID’s te blok wat verdag en bedrieglik lyk. Thandeka Chauke van Lawyers For Human Rights het aan Newzroom Afrika gesê die hof het die departement se optrede as onregverdig verklaar:
# Die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning het bykomende befondsing goedgekeur om die provinsie se veldbrandbegroting van 16-miljoen-rand tot 19-miljoen-rand te verhoog. Dit volg nadat brandbestryders gister veldbrande in Boyes-weg in Muizenberg, en in Franschhoek beveg het. Albei brande is onder beheer. Agthonderd-37 veldbrande is sedert verlede week by die provinsiale rampbestuursentrum aangemeld. LUR Anton Bredell sê groot kommer bestaan dat nog veldbrande in die komende maande kan voorkom:
# Die regering gaan na verwagting met die leierskap van die Border Alliance Taxi Association en Uncedo Taxi Association vergader om ʼn oplossing te vind vir die voortslepende taxigeweld in Port St Johns in die Oos-Kaap. Lede van die twee verenigings het Dinsdag by die Port St Johns-taxistaanplek op mekaar geskiet. Drie mense is dood en vyf, waaronder ʼn 11-jarige seun, is gewond. Elf verdagtes is in hegtenis geneem. Hulle staar aanklagte van moord, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging, die afvuur van wapens in ʼn beboude, munisipale gebied, en openbare geweld in die gesig.
# Koning Charles die Derde gaan volgende week in die hospitaal opgeneem word vir behandeling van ʼn vergrote prostaat. Buckingham-paleis sê hy kry behandeling soos duisende ander mans elke jaar en dat sy toestand nie ernstig is nie. Die paleis voeg by die 75-jarige Britse monarg se openbare pligte sal uitgestel word terwyl hy herstel. Dit volg nadat bevestig is dat Catherine, die prinses van Wallis, ʼn suksesvolle buikoperasie ondergaan het en tot twee weke in die hospitaal sal aansterk.
# Krieket: Die Paarl Royals het hulle derde agtereenvolgende oorwinning in die SA2-toernooi behaal, toe hulle op Boland Park in die Paarl die Super Kings met sewe paaltjies en ʼn bonuspunt verslaan het. Leus du Plooy het met 71 die meeste lopies vir die Super Kings aangeteken maar die besoekers was op 134 almal uit. Die toernooi se top-bouler Lungi Ngidi het drie paaltjies platgetrek. Jos Buttler het daarna ʼn onoorwonne 70 van 37 balle behaal en die Royals na ʼn oorwinning gelei om hul 100-persent rekord te behou. Buttler sê die uitdaging is om aan te hou wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-629-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-10-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….