Nuus 13:00
BULLETIN 22 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie B onthul enorme dreigemente en inmenging by die Armand Swart-moordondersoek
# ‘n Verdagte word aangekeer in verband met die dodelike skietery in ‘n taverne in Bronkhorstspruit
# En tennis: Italianers is ongelukkig omdat Sinner nie in die Davisbeker wil speel nie
# Getuie B het ernstige dreigemente en inmenging onthul tydens die ondersoek na die moord op die ingenieur Armand Swart voor sy werkplek in Vereeniging, Gauteng, in April verlede jaar. Sy het aan die Madlanga-kommissie vertel sy en Getuie A is saam onder polisiebeskerming geplaas nadat hulle gedreig is. B voeg by die moord is deeglik beplan en uitgevoer deur die voormalige speurder Michael Pule Tau, Musa Kekana en Tiego Mabusela, wat weggooibare selfone gebruik het om opsporing te vermy:
# Die Gautengse polisie het ‘n verdagte in hegtenis geneem wat verbind word met die skietery in ‘n taverne in Zithobeni, Bronkhorstspruit, vroeër die maand, wat die lewens van vyf mense geëis het. Twee mans het die kroeg op Sondag 5 Oktober binnegegaan en geëis dat een van die besoekers sy gelisensieerde vuurwapen oorhandig. Tydens die mislukte rooftog het die verdagtes lukraak losgebrand, vyf mense doodgeskiet en ses gewond. ‘n Polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê die verdagte is in Zithobeni in hegtenis geneem:
# Ses mans wat beskuldig word van die moord op Kaizer Chiefs se verdediger, Luke Fleurs, verskyn vandag in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng. Die 24-jarige is in April verlede jaar doodgeskiet tydens ‘n kaping by ‘n vulstasie in Roodepoort. Die ses staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens. Die polisie glo die beskuldigdes is deel van ‘n Gautengse motorkapingsindikaat. Ondersoeke duur voort om meer verdagtes in hegtenis te neem.
# Die beweging Suid-Afrikaanse Vriende van Israel sê ná jare van diplomatieke flaters en ideologiese verleentheid het die ANC bewys hy kan nie vertrou word om die land internasionaal te verteenwoordig nie. Hy eis dat die ANC die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se beheer aan ‘n regering van nasionale eenheid oorhandig. Bafana Modise van die beweging sê ʼn nuwe minister sal aan landsburgers en vennote wêreldwyd wys Suid-Afrika is ernstig oor die herbou van sy integriteit, beleggingswaarde en globale verhoudings.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, verduur kritiek in Italië oor sy besluit om nie sy land te verteenwoordig in die Davisbeker-eindtoernooi nie. Hy het Italië die vorige twee jaar na agtereenvolgende titels gelei, maar besluit om nie vanjaar te speel nie. Die Davisbeker word die week na die ATP-eindtoernooi gespeel en Sinner sê hy het daardie week nodig om te herstel. Die plaaslike tydskrif Gazzetta dello Sport wys daarop dat hy gereeld Italiaanse produkte soos pasta en koffie bevorder, en versoek dat hy dit ook met tennis doen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-944-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-73-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….