Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het Pakistan in Colombo volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met 150 lopies verslaan om tot boaan die Vroue-Wêreldbekertoernooi se punteleer te klim. Kaptein Laura Wolvaardt het 90 van 82 balle behaal en die Proteas het in 40 boulbeurte 312 vir nege aangeteken nadat reën die wedstryd ingeperk het. Dis Suid-Afrika se hoogste totaal in Wêreldbeker-geskiedenis. Pakistan is tot 83 vir sewe beperk terwyl hulle mikpunt ‘n verlaagde 234 in 20 boulbeurte was. Die Proteas het reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer terwyl Pakistan uit die toernooi is.
# Rugby: Ierland se skrumafrigter, John Fogarty, sê hulle is nie bekommerd oor die span se spelpeil voor volgende naweek se toets teen die All Blacks in Chicago, Amerika, nie. Ierland het tydens die Sesnasies laas ‘n toets gespeel, hoewel die meeste van hul spelers betrokke was by die Britse en Ierse Leeus se toer na Australië. Die All Blacks het pas ‘n mededingende Rugbykampioenskap afgesluit teen die wenner, Suid-Afrika, Australië en Argentinië. Fogarty sê ‘n toets teen die Kiwi’s is die perfekte uitdaging om die fokus te verskerp.
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, het aan die komende Paryse Meesters onttrek maar geen rede verskaf nie. Die 38-jarige speler het Saterdag in die Six Kings Slam in Saoedi-Arabië onttrek aan sy uitspeelwedstryd vir derde plek teen die Amerikaner, Taylor Fritz. Djokovic sal na verwagting steeds volgende maand in die ATP-jaareindtoernooi speel, waar hy met ʼn rekord van sewe oorwinnings spog. Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, en nommer-twee, die Italianer Jannik Sinner is die gunstelinge in die Paryse Meesters wat Maandag begin en tot 2 November duur.
Sinner verduur intussen kritiek in Italië oor sy besluit om nie sy land te verteenwoordig in die Davisbeker-eindtoernooi nie. Hy het Italië die vorige twee jaar na agtereenvolgende titels gelei, maar besluit om nie vanjaar te speel nie. Die Davisbeker word die week na die ATP-eindtoernooi gespeel en Sinner sê hy het daardie week nodig om te herstel. Die plaaslike tydskrif Gazzetta dello Sport wys daarop dat hy gereeld Italiaanse produkte soos pasta en koffie bevorder, en versoek dat hy dit ook met tennis doen.
# En sokker: Die derde ronde van die Kampioeneliga het 43 doele opgelewer, asook vyf rooikaarte en ses strafskoppe. Die verdedigende kampioen, Paris St Germain, het Bayer Leverkusen 7-2 kafgedraf en na die bopunt van die punteleer opgeskuif. Fermín López het ‘n driekuns behaal toe Barcelona met 6-1 oor Olympiacos geseëvier het. PSV Eindhoven het die Italiaanse kampioen Napoli 6-2 geklop. Erling Haaland het in sy 12de agtereenvolgende wedstryd ‘n doel aangeteken toe Manchester City Villarreal 2-0 geklop het. Arsenal en Newcastle het ook oortuigende oorwinnings behaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….