Nuus 11:00
BULLETIN 22 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika is in ‘n moeilike posisie tussen China en die VSA
# Coca-Cola skep Afrika se grootste koeldrankgroep
# En die misdaadkenner Calvin Rafadi bedank by die Universiteit van Johannesburg na hy by die Madlanga-kommissie genoem is
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, erken dat die handelsoorlog tussen Amerika en China Suid-Afrika in ‘n moeilike posisie geplaas het om ‘n balans tussen sy twee grootste handelsvennote te handhaaf. China het Amerika in 2008 as Suid-Afrika se grootste handelsvennoot verbygesteek, met Suid-Afrika wat China se grootste mark in Afrika geword het. Lamola sê Amerika plaas druk op Suid-Afrika om tussen die twee lande te kies, maar die regering sal nie onder die druk swig nie:
# Die Switser-gebaseerde Coca-Cola HBC AG het vir 45-miljard-rand ‘n meerderheidsaandeel in Coca-Cola Beverages Africa gekoop om, wat volume betref, die gaskoeldrank se tweede grootste botteleringsvennoot te word. Coca-Cola HBC is in 1951 in Nigerië gestig as die Nigeriese Botteleringsmaatskappy. Die hoofkantoor is tans in Switserland, en dit word in 29 lande op drie vastelande bedryf. Die groep sal 75-persent van CCBA in Johannesburg verkry en sodoende 14 Afrika-markte by sy portefeulje voeg. Coca-Cola HBC se uitvoerende hoof, Zoran Bogdanovic, sê die verkryging gaan oor groei, en werksgeleenthede in Suid-Afrika word nie geraak nie.
# Die misdaadkenner Calvin Rafadi het as navorsingsgenoot by die Universiteit van Johannesburg bedank na verdoemende bewerings in getuienis voor die Madlanga-kommissie. ‘n Beskermde getuie, slegs geïdentifiseer as Getuie X, het getuig dat Rafadi na bewering aangedring het op finansiële gunste van die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala, wat van poging tot moord aangekla word. Volgens die getuie het Rafadi die guns beantwoord deur by te dra tot ‘n media-relaas wat Matlala gepas het oor die KwaZulu-Natalse politieke moorde-taakspan. Rafadi het die bewerings ontken en sê hy is van voorneme om die kommissie in te lig oor sy weergawe van die gebeure.
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die sperdatum uitgestel vir skriftelike voorleggings en ondersteunende bewyse oor die markondersoek na die uitwerking van vaste heffings wat Eskom en munisipale elektrisiteitsverspreiders hef. Die doel van die ondersoek is om te bepaal hoe vaste en vermoëns-gebaseerde koste gestruktureer en toegepas word in die elektrisiteitsverspreidingsektor, asook die uitwerking. Dit is in die besonder in gevalle waar verhogings Eskom se goedgekeurde tariefaanpassings van 12,74-persent oorskry het. Charles Hlebela van Nersa sê die sperdatum is nou 8 November:
# Rugby: Ierland se skrumafrigter, John Fogarty, sê hulle is nie bekommerd oor die span se spelpeil voor volgende naweek se toets teen die All Blacks in Chicago, Amerika, nie. Ierland het tydens die Sesnasies laas ‘n toets gespeel, hoewel die meeste van hul spelers betrokke was by die Britse en Ierse Leeus se toer na Australië. Die All Blacks het pas ‘n mededingende Rugbykampioenskap afgesluit teen die wenner, Suid-Afrika, Australië en Argentinië. Fogarty sê ‘n toets teen die Kiwi’s is die perfekte uitdaging om die fokus te verskerp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-766-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-135-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….