Nuus 08:00
BULLETIN 22 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering herbevestig breë swart ekonomiese bemagtiging
# Die GOOD-party is bekommerd oor studente wat hul toelaes gebruik om aanlyn te dobbel
# En Israel het een van die oorlede gyselaars geïdentifiseer wat nou deur Hamas terugbesorg is
# Die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel het herbevestig dat breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging ‘n belangrike beleid vir ekonomiese transformasie en insluiting bly. Hy sê die beleid is ‘n grondwetlike en morele verpligting wat daarop gemik is om geskiedkundige ongeregtighede reg te stel en insluiting te bevorder, veral vir vroue, die jeug en mense met gestremdhede. Die adjunkwoordvoerder in die regering, William Baloyi, sê die beleid, wat deur demokratiese prosesse ontwikkel is, bly sentraal tot die regering van nasionale eenheid se doelwit om ‘n regverdige en inklusiewe ekonomie te bou:
# Die GOOD-party sê onlangse berigte wat onthul dat sommige studente hulle toelae van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gebruik om aanlyn te dobbel is nie net tragies nie, maar ‘n simptoom van ‘n baie dieper krisis. Dobbel, wat hoofsaaklik gedryf word deur toenemende digitale toeganklikheid, het op ‘n jaar grondslag met 45,7-persent in Suid-Afrika toegeneem. GOOD se nasionale jeug-voorsitter, Kaden Arguile, sê dobbelary het ‘n ontvlugting en ‘n simptoom geword wat ‘n weerspieëling is van ekonomiese desperaatheid:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, veroordeel die voortslepende bendebedrywighede in Westbury, Johannesburg. Sewe tieners is gistermiddag in ‘n vermeende bendeverwante voorval geskiet. Twee slagoffers is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar en die ander vyf sterk steeds in die hospitaal aan. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Masemola sê dis kommerwekkend dat jong kinders gebruik word om dwelms te smokkel:
# Die Israelse weermag sê forensiese ondersoekers het die oorskot van een van twee gyselaars geïdentifiseer wat Hamas gister oorhandig het. Dis die liggaam van die 85-jarige Aryeh Zalmanovich wat op 17 November 2023 in aanhouding dood is. Sodra die tweede persoon uitgeken is, sal dit beteken Hamas het die liggame van 15 van die 28 Israelse gyselaars teruggegee volgens fase een van die skietstilstand wat Amerika bewerkstellig het. Al 20 lewende gyselaars is vroeër die maand vrygelaat.
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, het aan die komende Parys Meesters onttrek maar geen rede verskaf nie. Die 38-jarige speler het Saterdag by die Six Kings Slam in Saoedi-Arabië onttrek aan sy uitspeelwedstryd vir derde plek teen die Amerikaner, Taylor Fritz. Djokovic sal na verwagting steeds volgende maand in die ATP-jaareindtoernooi speel, waar hy met ʼn rekord van sewe oorwinnings spog. Die wêreld-nommer-een Carlos Alcaraz van Spanje en die Italianer Jannik Sinner is die gunstelinge vir die Parys Meesters wat Maandag begin en tot 2 November duur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-955-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-111-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….