Nuus 16:00
BULLETIN 21 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA voel geregverdig oor die Gautengse Gesondheidshoof na die mislukking van sy leefstyl-oudit
# Die Amerikaanse visepresident JD Vance kom in Israel aan vir gesprekke oor die brose wapenstilstandooreenkoms in Gaza
# En sokker: Stellenbosch FC is tot einde vanjaar sonder ‘n tuisveld weens die opgradering van die Danie Craven-stadion
# Die DA sê hy is reg bewys nadat die hoof van die Gautengse Gesondheidsdepartement, Lesiba Malotana, as ‘n hoë risiko uitgewys is in ‘n leefstyloudit deur die Spesiale Ondersoekeenheid. LUR Faith Mazibuko het die bevindinge vandag in die wetgewer bekend gemaak. Jack Bloom van die DA het premier Panyaza Lesufi gekritiseer vir Malotana se aanstelling verlede jaar ondanks sy beweerde betrokkenheid by omkoopgeld van tien-miljoen-rand. Malotana is nou as voorsorgmaatreël geskors. Bloom dring aan op deursigtigheid oor sy bates:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê klimaatsfinansiering bly die kern van betekenisvolle optrede. Lande wat die minste ontwikkel is, is volgens kenners onder dié wat die meeste blootgestel is aan toenemende klimaatsrisiko’s al dra hulle die minste daartoe by. George sê nasies met ontwikkelende ekonomieë het beter, voorspelbare en toeganklike befondsing nodig vir bekamping, aanpassing, en verlies en skade. Hy sê klimaatsfinansiering om ontwikkelende ekonomieë te help, moenie nuwe skuldlaste skep nie:
# Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, is in Israel om die brose wapenstilstandooreenkoms in Gaza te versterk nadat president Donald Trump Hamas gewaarsku het hulle sal uitgewis word as hulle die wapenstilstand verbreek. Trump se spesiale gesant, Steve Witkoff, en skoonseun Jared Kushner is reeds in Tel Aviv, waar hulle gyselaars ontmoet het wat Hamas ná twee jaar vrygelaat het. Vance sal Witkoff, Kushner en Amerikaanse militêre kundiges ontmoet wat die wapenstilstand monitor. Volgens mediaberigte sal hy môre met Israelse leiers vergader, insluitend eerste minister Benjamin Netanyahu.
# Sokker: Die sluiting van die Danie Craven-stadion van die Universiteit Stellenbosch laat Stellenbosch FC vir die res van die jaar sonder ‘n tuisveld. Die stadium word tans opgegradeer. Die klub sê die veld behoort aan en word bestuur deur Maties en die besluit is buite hulle beheer. Dit beteken dat Stellenbosch sy wedstryde in Kaapstad moet speel, maar hy sien daarna uit om volgende jaar na die ikoniese veld terug te keer. Die klub hoop om in die toekoms sy eie stadion te bou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-420-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-223-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-28-sent per vat.
# En laastens, die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika se ekonomiese en morele krisis word blootgelê deur twee kommerwekkende syfers. Daar is maatskappye, uitgesonderd dié in die finansiële sektor, wat ‘n rekord 1,8-duisend-miljard-rand in kontant hou terwyl 21-persent van kinders in die land onder vyf jaar weens wanvoeding belemmer word. John Endres van die instituut sê waar beleggings vloei, groei die ekonomie; waar werkgeleenthede toeneem, daal wanvoeding. Hy sê dat groei die enigste volhoubare voedingskema is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….