Nuus 15:00
BULLETIN 21 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu ontken dat hy die ANC se 8 Januarie-dinee aangebied het met ‘Cat’ Matlala se geld
# Japan se nuwe eerste minister stel net twee vroue aan in haar kabinet
# En sokker: Dembele is in PSG se span vir die kragmeting met Bayer Leverkusen
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het bewerings ontken dat hy op 8 Januarie ‘n vieringsdinee vir die ANC aangebied het wat deur die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala befonds is. Mchunu het voor die Parlement verduidelik dat hy nie in daardie stadium in Kaapstad was nie, maar gedenkdienste en begrafnisse in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap bygewoon het. Mchunu sê hy het nooit so ‘n ete gereël, bygewoon of iemand opdrag gegee om dit namens hom te doen nie:
Intussen het die EFF-leier, Julius Malema, bevraagteken hoe Mchunu se regsverteenwoordigers ‘n beëdigde verklaring van Matlala in die Kgosi Mampuru C-Max-gevangenis verkry het. Mchunu het aan die Parlement gesê sy prokureurs het dit uit eie oorweging gedoen, waarop Malema gewaarsku het oor ernstige gevolge indien hulle dit sonder enige opdrag gedoen het. Mchunu het aan die getuienisleier, Norman Arendse, verduidelik dat hy die wens uitgespreek het om regstreeks by Matlala duidelikheid te kry:
# Die Konstitusionele Hof het beslis dat die Munisipale Werknemerspensioenfonds die nodige regsbevoegdheid gehad het om die Stad Johannesburg se goedkeuring van ‘n hersoneringsaansoek deur Nordic Light Properties te betwis. Die hof het bevind dat die fonds regstreeks geraak is nadat hulle eienaarskap van die Nicolway Bryanston-winkelsentrum, ook bekend as die Winifred Mandela-sentrum, verkry het. Die saak, wat voorheen deur die Gautengse Hooggeregshof van die hand gewys is, is terugverwys vir ‘n volledige verhoor oor die meriete. Die stad is gelas om die koste te betaal.
Nuus uit die buiteland:
# Japan se nuwe eerste minister, Sanae Takaichi, het slegs twee ander vroue in haar kabinet van 19-lede ingesluit, al het sy Nordiese vlakke van verteenwoordiging beloof. Satsuki Katayama is die eerste vroue-minister van Finansies. Takaichi, ‘n bewonderaar van die voormalige Britse eerste minister, Margaret Thatcher, is vanoggend as die eerste vrou in die posisie aangewys. Vroue is nie algemeen in Japanse politiek of raadsale nie. Die land is 118de uit 148 op die Wêreld-ekonomiese Forum se jongste Geslagsgapingsverslag. Ysland, Finland en Noorweë beklee die eerste drie plekke.
# Sokker: Die Ballon d’Or-wenner Ousmane Dembele is ingesluit in Paris Saint-Germain se groep wat vanaand teen Bayer Leverkusen in die Kampioeneliga speel na ‘n besering wat hom ses weke op die kantlyn gehou het. Dembele het ‘n dyspier beseer toe hy vroeg in September vir Frankryk gespeel het. Hy het by ‘n spesialiskliniek in Katar herstel en verlede week weer begin oefen. Dembele kan ‘n belangrike rol vir Duitsland speel, aangesien die Europese kampioen hoop om drie oorwinnings uit drie tot dusver vanjaar in die Kampioeneliga te behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-503-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-260-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….