Nuus 13:00
BULLETIN 21 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu ontken enige verbintenis met die sakeman, Vusimusi ‘Cat’ Matlala
# Zanu-PF wil Mnangagwa se termyn as Zimbabwiese president tot 2030 verleng
# En die Franse polisie haas hulle om die kosbare juwele te vind wat uit die Louvre gesteel is
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het voor die Parlement se ad hoc-komitee enige verbintenis met die omstrede sakeman, Vusimuzi “Cat” Matlala, ontken. Mchunu het aan parlementslede gesê dat hy Matlala nog nooit ontmoet of met hom gepraat het nie, en verklaar dat sy prokureurs ‘n beëdigde verklaring van Matlala se regspan verkry het wat dit bevestig:
Getuie A het intussen aan die Madlanga-kommissie gesê die taakspan vir politieke moorde het slegs by die ondersoek na die moord op die ingenieur Armand Swart aangesluit nadat hy en sy kollega, Getuie B, onder 24-uur-beskerming geplaas is. Hy sê hulle veiligheid is deur Misdaadintelligensie oorgeneem. Getuie A het bygevoeg die verskuiwing na veilige huise het hulle lewens heeltemal verander, aangesien hulle nie meer huis toe kon gaan of normaal kon leef terwyl hulle onder streng sekerheidsmaatreëls was nie:
Nuus uit die buiteland:
# Zimbabwe se regerende party, ZANU-PF, het die verlenging van president Emmerson Mnangagwa se termyn tot 2030 onderskryf, wat die 83-jarige sal toelaat om tot op 88 aan bewind te bly. Die plan, wat by die jaarlikse konferensie aanvaar is, gee opdrag aan die Ministerie van Justisie en die Parlement om grondwetlike wysigings aan te bring. Kritici, insluitend opposisiepartye en die burgerlike samelewing, waarsku dit sal demokrasie en openbare vertroue ondermyn. Die minister van Justisie, Ziyambi Ziyambi, meen egter dit sal kontinuïteit en bestendigheid vir Mnangagwa se Visie 2030-ontwikkelingsagenda bring.
# Rugby: Die voormalige All Blacks-sterspeler Wayne Smith het sy land en afrigter Scott Robertson aangespoor om dapper te wees wanneer hulle mik na ‘n vyfde onoorwonne jaareind-toer. Nieu-Seeland se toer in die noordelike halfrond begin op 1 November teen Ierland in Chicago, Amerika, gevolg deur toetse teen Skotland, Engeland en Wallis. Die Kiwi’s het al vier wedstryde teen die tuislande in 1978, 2005, 2008 en 2010 gewen. Smith glo die All Blacks het die nodige ervaring om dit weer te doen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-826-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-269-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Franse polisie haas hulle om goedere te herwin wat tydens ‘n gewaagde rooftog uit die wêreldberoemde Louvre-museum in Parys gesteel is. ‘n Kuns-speurder het aan Sky News gesê dis die diefstal van die dekade, en die polisie moet die skuldiges binne ‘n week vastrek om die kosbare kroonjuwele te herwin. Agt voorwerpe is gesteel terwyl ‘n negende item op die toneel herwin is. Die gesteelde juweliersware sluit in oorbelle, halssnoere, tiara’s en ‘n borsspeld wat behoort het aan koningin Marie-Amelie, koningin Hortense, keiserin Marie en keiserin Eugenie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….