Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-vroue kolf eerste in Colombo, Sri Lanka, teen Pakistan in hul voorlaaste Wêreldbeker-groepswedstryd nadat hulle reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer het. Daar is nie veel op die spel vir die teenstanders nie, want hulle is onderaan die punteleer met slegs twee punte na hulle vorige vyf wedstryde. Suid-Afrika het haar eerste wedstryd teen Engeland verloor voor agtereenvolgende oorwinnings oor Nieu-Seeland, Indië, Bangladesj en Sri Lanka. Die Proteas se laaste groepswedstryd is Saterdag teen die verdedigende kampioen en voorloper, Australië, in Indore, Indië.
‘n Briljante sewe paaltjies deur die draaibouler Keshav Maharaj het die Protea-mans intussen gehelp om Pakistan vir 333 uit te boul op die tweede oggend van die tweede toets in Rawalpindi. Die gashere het op 259 vir vyf hervat en die eerste paaltjie het op 316 gekantel, waarna korte mette gemaak is met die ander kolwers. Pakistan se kaptein, Shan Masood, se 87 was die grootste bydrae, gevolg deur Saud Shakeel se 66 en Abdullah Shafique se 57. Pakistan het die eerste toets gewen.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle verwag ‘n taai en uitdagende jaareind-toer. Die voormalige Junior Springbok-stut en kaptein, Zachary Porthen, is die enigste nuweling wat in die groep van 36-speler ingesluit is vir volgende maand se toer. Die Bokke sal Japan op die eerste van volgende maand op die Wembley-stadion in Londen pak, gevolg deur toetse teen Frankryk in Parys, Italië in Turyn, Ierland in Dublin en Wallis in Cardiff. Erasmus sê die toer is ‘n goeie geleentheid om hulself teen die bestes te toets.
Die Ierse vleuel Mack Hansen moes intussen onttrek aan die span vir volgende maand se toets teen Nieu-Seeland in Chicago nadat hy ‘n voetbesering vererger het. Die Britse en Ierse Leeus-speler is van die veld tydens Connacht se nederlaag van 28-27 teen die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die nuweling-senter Tom Farrell en Jimmy O’Brien van Leinster is by die groep gevoeg, met Edwin Edogbo en Brian Gleeson van Munster wat ook beseer is. Bundee Aki en Robbie Henshaw word steeds waargeneem en sal na Amerika reis.
# En tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, gaan nie volgende maand vir Italië speel in die Davisbeker-eindtoernooi op eie bodem in Bologna nie. Die viermalige Grand Slam-kampioen het die vorige twee jaar gehelp om sy land tot ‘n oorwinning te lei. Sy woordvoerder sê hy gaan die geleentheid oorslaan om ‘n bykomende week te hê vir sy voorbereiding vir die Australiese Ope in Januarie. Italië speel teen Australië in die kwarteindronde van die Davisbeker. Die wêreld-nommer-een, Carlos Alacaraz, is intussen in Spanje se span opgeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….