Nuus 08:00
BULLETIN 21 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC en Ezulweni bereik ‘n ooreenkoms oor die party se verkiesingsveldtogskuld
# Brittanje is gereed om soldate na Oekraïne te ontplooi indien ‘n vredesooreenkoms gesluit word
# En tennis: Jannik Sinner is uit die Italiaanse Davisbeker-eindstrydgroep
# Die ANC en Ezulweni Investments het buite die hof geskik. Die party sou na verwagting vandag die hof nader om ‘n bevel om op sy bankrekeninge beslag te lê weens skuld van 85-miljoen-rand, om te keer. Dit volg nadat die ANC versuim het om sy skuld aan die KwaZulu-Natalse drukker- en bemarkingsmaatskappy te betaal vir materiaal wat Ezulweni Investments vir die verkiesingsveldtog in 2019 gelewer het. Die ANC sê ʼn minlike skikking is bereik en die inhoud van die nuwe ooreenkoms sal vertroulik bly.
# Eskom sê die bygewerkte Geïntegreerde Hulpbronplan is ʼn duidelike beleggingspadkaart na ʼn gebalanseerde nasionale energiemengsel wat ʼn volhoubare toekoms en ekonomiese insluiting sal verseker. Die plan wat verlede week deur die kabinet goedgekeur is, sal gebruik maak van meer son- en windkrag, asook gas om seker te maak daar is teen 2030 genoeg betroubare elektrisiteit. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die plan is bygewerk na insette van meer as vierduisend partye tydens die openbare konsultasiefase:
# ActionSA in Gauteng sê die onlangse aanvalle op misdaadvoorkomingsbeamptes beklemtoon ernstige stelsel-mislukkings deur die provinsiale regering. ʼn Beampte van die Misdaadvoorkomingseenheid in Germiston is verlede week geskiet toe hy op ʼn rooftog gereageer het. Verlede maand is vyf beamptes in die hospitaal opgeneem nadat 12 gewapende verdagtes hulle in Daveyton in ʼn hinderlaag gelok het. ActionSA-woordvoerder Zwelithini Mtshali sê dis onaanvaarbaar dat misdaadvoorkomingbeamptes dikwels in gevaar gestel word sonder volle ondersteuning of hulpbronne:
# Die minister van Verdediging, John Healey, sê Brittanje is gereed om soldate in Oekraïne te ontplooi indien president Donald Trump van Amerika ʼn vredesooreenkoms met Rusland bereik. Trump en die Russiese president, Vladimir Putin, beplan om binne die volgende paar weke in Hongarye te ontmoet om ʼn einde te bring aan die vier jaar lange volskaalse oorlog. Healey sê militêre personeel sal voorberei word om by ʼn multinasionale mag aan te sluit om Oekraïne se grense te bewaak indien Trump ʼn skietstilstand bemiddel:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner gaan nie volgende maand vir Italië in vanjaar se Davisbeker-eindstryd op eie bodem in Bologna speel nie. Die viermalige Grand Slam kampioen het gehelp om sy land tot ‘n oorwinning in 2023 en 2024 te lei. ‘n Verteenwoordiger vir Sinner het gesê hy gaan die geleentheid oorslaan om ‘n bykomende week te hê vir sy voorbereiding vir die Australiese Ope, wat die begin van sy 2026 seisoen sal wees. Italië kom teen Australië in die kwarteindstryd van die Davisbeker te staan. Die wêreld se nommer-een Carlos Alacaraz is intussen in Spanje se span opgeneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-587-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-347-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….