Nuus 06:00
BULLETIN 21 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube sê streng sekerheid is in plek om die integriteit van die NSS-eksamen te verseker
# Twee top Amerikaanse gesante ontmoet Netanyahu na ‘n naweek van geweld in Gaza
# En krieket: Die Proteas speel teen Pakistan in die voorlaaste Wêreldbeker-groepwedstryd
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê streng sekerheids- en ondersteuningsmaatreëls word getref om die integriteit van die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen te verseker. Ongeveer 900-duisend kandidate sal na verwagting die NSS-eksamen, wat vandag begin, aflê. Gwarube sê openbare eksamensentrums waar onreëlmatighede herhaaldelik voorgekom het, sal permanent eksterne opsieners hê om integriteit te verseker. Sy sê die integriteit van die eksamen bly van die allergrootste belang:
President Cyril Ramaphosa het intussen die 2025-matriekklas alle sterkte toegewens met die begin van die eksamen vandag en gesê dit is die leerders se oomblik om te skitter. Onder die kandidate is 766-duisend voltydse leerders en 137-duisend deeltydse kandidate. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die hele land staan agter die matriekleerders terwyl hulle volhard om te fokus tydens die eksamen:
# Getuie A het aan die Madlanga-kommissie gesê die eenheid vir onopgeloste sake het probeer om beheer te neem van die Q-Tech ingenieur, Armand Swart, se moorddossier, ten spyte van voortdurende arrestasies. Hy het verwys na gespanne vergaderings met die hoof van die Gautengse misdaad-ondersoekdienste, Richard Shibiri, waar daar op moontlike omkopery gesinspeel is. Getuie A het ook gesê ‘n partytjie-uitnodiging deur sakeman Vusi Ndlala het gelyk asof dit ‘n toets was om te sien of hy en sy kollegas moontlik omgekoop kon word:
# Die Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg sal Vrydag uitspraak lewer oor die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala se borgtogaansoek. Matlala, wat sedert April in aanhouding is, staan tereg op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, geldwassery en regsverydeling. Die staat staan borgtog teen en verwys na openbare gevaar en getuie-inmenging, terwyl Matlala se regspan aanvoer buitengewone omstandighede regverdig sy vrylating hangende die verhoor.
# Twee van die Verenigde State se topgesante na die Midde-Ooste het Maandag met die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu vergader nadat geweld oor die naweek gedreig het om die breekbare wapenstilstand in Gaza, wat deur die VSA bemiddel is, te vernietig. Die vergadering het plaasgevind nadat Israel die Kerem Shalom-grenspos na Gaza vir hulpversendings heropen het. Die toegangspunt is Sondag kortliks gesluit na die dood van twee Israeliese soldate. In reaksie hierop het Israel talle aanvalle teen Hamas regoor Gaza uitgevoer en die militante groep daarvan beskuldig dat hulle die wapenstilstand geskend het. Hamas het die beskuldiging ontken.
# Krieket: Die Protea-vroue speel vandag in Colombo, Sri Lanka, teen Pakistan in hul voorlaaste Wêreldbeker-groepwedstryd nadat hulle reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer het. Daar is nie veel op die spel vir die teenstanders nie, want hulle is onderaan die punteleer met slegs twee punte na hulle vorige vyf wedstryde. Suid-Afrika het sy eerste wedstryd teen Engeland verloor voor agtereenvolgende oorwinnings oor Nieu-Seeland, Indië, Bangladesj en Sri Lanka. Die Proteas se laaste groepwedstryd is Saterdag teen die verdedigende kampioen en voorloper, Australië, in Indore, Indië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-699-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-362-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….