Nuus 17:00
BULLETIN 20 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie A vertel die Madlanga-kommissie van ondersteuners van ‘n omstrede polisie-speurder se dreigemente en teistering
# Amazon se wolkdienste word getref deur ‘n urelange, wêreldwye onderbreking
# En krieket: Pakistan bereik 259 vir vyf na die eerste dag se spel teen die Proteas in Rawalpindi
# Getuie A het aan die Madlanga-kommissie gesê hy en sy kollegas word gedreig en geteister deur ondersteuners van die speurder Michael Pule Tau ná sy inhegtenisneming vir die moord op ‘n Q-Tech-ingenieur, Armand Swart. Hy sê van die ondersteuners, vermoedelik polisiebeamptes in gewone klere, het probeer om foto’s van hulle te neem en selfs probeer om hulle voertuie van die pad te dwing ná ‘n hofverskyning:
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling, Bridget Masango, sê die interne geskille binne die departement is kommerwekkend. Dit sluit in die onlangse afdanking van sy woordvoerder, Lumka Oliphant, oor bewerings dat sensitiewe inligting uitgelek is en die oortreding van departementele reëls. Masango sê die komitee sal ‘n regsmening inwin by die Parlementêre Regsdienste. Sy het aan Newzroom Afrika beklemtoon die departement se mandaat om kwesbare burgers te besker, mag nie deur leierskapskwessies oorskadu word nie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Wêreldwye onderbreking het die Amerikaanse tegnologie-reus Amazon se wolkdienste vir ‘n aantal ure getref. Talle webwerwe en dienste is ontwrig, insluitend Amazon Prime, Perplexity, Fortnite, Alexa, Snapchat en Duolingo. Amazon se instandhoudingsmaatskappy sê die probleem is na sowat drie uur grootliks opgelos, met sommige dienste wat nog werk om die agterstand uit te wis. Baie ander dienste is geraak, insluitend Reddit en verskeie video-stroomplatforms soos Hulu en DisneyPlus. In Europa is verskeie groot selfoonmaatskappye ook geraak, asook sommige Britse banke, WhatsApp en Tinder.
# Krieket: Pakistan het 259 vir vyf bereik aan die einde van die eerste dag van die tweede en laaste toets teen Suid-Afrika in Rawalpindi. Kaptein Shan Masood het 87 aangeteken en Abdullah Shafique 57 nadat die gashere besluit het om eerste te kolf. Keshav Maharaj en Simon Harmer het elk twee paaltjies geneem en Kagiso Rabada een. Die Proteas het nie ‘n goeie dag in die veld beleef nie en verskeie vangkanse verbrou. Pakistan het die eerste toets in Lahore binne vier dae met 93 lopies gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-692-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-318-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-31-sent per vat.
# En laastens, die DA in Gauteng het matrieks alles van die beste toegewens met hul eindeksamen wat môre begin. Die DA se provinsiale woordvoerder oor onderwys, Sergio Isa dos Santos, het leerders geprys oor hul veerkragtigheid te midde van uitdagings soos oorvol klaskamers en infrastruktuur-vertragings. Dos Santos het onderwysers en ouers bedank vir hul ondersteuning en die Onderwysdepartement versoek om veilige, ontwrigtingsvrye eksamensentrums te verseker. Hy versoek leerders om selfversekerd te bly:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….