Nuus 13:00
BULLETIN 20 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie A onthul nuwe inligting oor die moord op die ingenieur Armand Swart
# StandUpSA en Enough Is Enough eis Ramaphosa se bedanking met ‘n optog in Pretoria
# En rugby: Erasmus kondig sy toergroep aan vir die besoek aan Europa
# Getuie A het nuwe besonderhede oor die moord op die ingenieur Armand Swart onthul voor die Madlanga-ondersoek in Pretoria. Die ondersoekbeampte vir georganiseerde misdaad, wat van ‘n ander perseel getuig het, het bevestig dat Swart in April verlede jaar 23 keer geskiet is buite sy werkplek in Vereeniging, Gauteng, toe hy vir ‘n ander werknemer aangesien is. Getuie A het die saak aan drie ander moorde verbind en verskeie inhegtenisnemings bevestig, insluitend verdagtes wat in Bramley en Kliprivier aangekeer is:
# Die burgerlike beweging, StandUpSA, in ‘n vennootskap met Enough Is Enough, lei vandag ‘n “Ramaphosa moet gaan”-optog in Pretoria. Betogers stap na die Uniegebou om ‘n versoekskrif te oorhandig wat die president se bedanking eis. Organiseerders beskuldig president Ramaphosa daarvan dat hy nie korrupsie, werkloosheid en dienslewering aangepak het nie. StandUpSA sê die vreedsame betoging weerspieël liefde vir Suid-Afrika en frustrasie met ‘n president wat uit voeling is met die publiek.
# Die Kernnywerheidsvereniging van Suid-Afrika sê die goedkeuring van die opgedateerde Geïntegreerde Hulpbronplan is ‘n gewaagde en pragmatiese stap vorentoe in die land se langtermyn-energiestrategie. Die IRP beskryf ‘n geraamde belegging van 2,2-duisend-miljard-rand in nuwe opwekkingsvermoë, wat meer sonkrag, windkrag en gas inspan om te verseker dat daar teen 2030 genoeg betroubare krag is. Die vereniging sê hulle prys die insluiting en erkenning van kernenergie as ‘n strategiese pilaar in die land se skoon, Billike Energie-oorgang.
# Rugby: Die voormalige Junior Springbok-stut en -kaptein, Zachary Porthen, het sy eerste Springbok-oproep verdien in die groep van 36 vir volgende maand se toer. Ben-Jason Dixon, Johan Grobbelaar en Gerhard Steenekamp kan die eerste keer die seisoen vir Suid-Afrika speel, terwyl Jean Kleyn, Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe terug is na beserings. Tien spelers is op bystand geplaas, insluitend Evan Roos, Bongi Mbonambi en Sebastian de Klerk. Willie le Roux is uitgelaat. Die Springbokke speel op 1 November teen Japan op Wembley in Londen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-880-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-252-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Die 11de Afrika-vroueskrywersimposium in die Soweto-teater het meer lees en kreatiewe skryfwerk, veral vir vroue, beklemtoon. Die geleentheid, wat deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur befonds is en deur Afro Arts SA aangebied is, het vrouestemme in die letterkunde gevier. Hoogtepunte het ingesluit die skrywer Alexandra Fuller se “No Voice No Choice“-lesing, poësie en geleenthede wat patriargie, rassisme en ongelykheid aanpak. Die woordvoerder Roshnie Moonsammy het aan Newzroom Afrika gesê opleiding in kopieskryf en uitgewery moet versterk word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….