Nuus 11:00
BULLETIN 20 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die uitwissing van voedselarmoede moet ‘n gemeenskapspoging wees
# Die Madlanga-kommissie se sitting sal gedeeltelik in camera gehou word
# En Trump sê die skietstilstand in Gaza is steeds van krag
# President Cyril Ramaphosa sê om armoede te oorkom en lewenskoste vir Suid-Afrikaners te verminder is een van die strategiese voorkeure van die regering van nasionale eenheid. Sowat 15- tot 16-miljoen inwoners se toegang tot voedsel is onvoldoende of word ernstig gekortwiek. Ramaphosa sê in sy weeklike nuusbrief terwyl kleinhandelaars daaraan werk om hulle markaandeel na laer-inkomste huishoudings te vergroot, het hulle die verantwoordelikheid om te verseker dat dit bekostigbare, gesonde voedselkeuses insluit. Hy voeg by die uitwissing van uiterste voedselarmoede moet ‘n gesamentlike poging wees.
# Drie getuies sal na verwagting dié week voor die Madlanga-kommissie in Pretoria getuig met verrigtinge wat gedeeltelik in-camera sal geskied. Getuies A,B en C sal van ‘n afgeleë plek getuienis lewer, maar met hulle stemme hoorbaar. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê drie was dienende speurders wat verbonde was aan die Gautengse Teenintelligensie-eenheid of die KwaZulu-Natalse politieke moord-taakspan. Hy sê hulle getuienis hou verband met hulle ervarings met die ondersoek van misdade van kartelle wat die onderwerp is van die kommissie se ondersoeke.
# Die MK-party in Gauteng sê hy gaan die Ouditeur-generaal en die Openbare Beskermer nader om Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, aanspreeklik te hou vir die roekelose uitgawes op watertenkwaens. News24 het onthul Tshwane se besteding aan watertenkwaens het in die boekjaar wat in Junie geëindig het, tot 777-miljoen-rand gestyg. In die 2023/24-boekjaar het die metro slegs 140-miljoen-rand aan watertenkwaens bestee. MK se woordvoerder, Abel Tau, sê dis ‘n duidelike voorbeeld van wanbesteding van staatsfondse:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê die skietstilstand in Gaza is steeds in werking. Israel het gister ‘n reeks aanvalle oral in die gebied geloods nadat hy Hamas beskuldig het van ‘n aanval waarin twee soldate dood is. Minstens 44 mense is in die Israelse aanvalle dood. Hamas en Israel beskuldig mekaar van die skending van die Amerikaans-onderhandelde skietstaking. Trump het aan boord van Air Force One aan joernaliste gesê hulle sal streng optree teen die onlangse verwikkelings:
# Sokker: Liverpool se bestuurder, Arne Slot, is gefrustreerd oor sy span se swakhede, en sê hulle moet hul puntetelling en verdediging verbeter, veral in die vaste fasette. Die heersende Premierliga-kampioen het gister sy vierde agtereenvolgende nederlaag in alle kompetisies gely toe hy op Anfield 2-1 teen Manchester United verloor het. Liverpool het sedert Mei twee of meer doele in agt van hul 12 ligawedstryde afgestaan, wat meer as enige ander span is. Slot sê hy glo hulle sal weer regkom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-287-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-245-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….