Nuus 09:00
BULLETIN 20 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum kritiseer die Weermag vir ‘n gebrek aan deursigtigheid oor hul ontplooiing in die DRK
# Donald Trump sê die VSA staak finansiële hulp aan Colombia
# En krieket: Engeland sluit aan by Suid-Afrika en Australië in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi vir vroue
# AfriForum het kommer uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se gebrek aan deursigtigheid wat die ontplooiing van soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo betref. Die organisasie het in Februarie vanjaar ‘n versoek aan die SANW gestuur en dokumente aangevra wat die ontplooiing in die DRK regverdig, besonderhede oor die onkoste en befondsing, en redes waarom soldate na ‘n spesifieke streek gestuur is. Jacques Broodryk van AfriForum sê tot op hede het die SANW geen terugvoer gegee nie:
# Die DA-leier John Steenhuisen sal vandag voorgestelde hervormings aan Swart Ekonomiese Bemagtiging, Gelyke Indiensneming, en die Onteieningswette onthul. Die party sê die wette verskans elite-verryking en blokkeer klein ondernemings. Die DA se sespuntplan fokus op behoefte-beleid, werkskepping en die ondersteuning van klein ondernemings eerder as rasseteikens. Die aankondiging volg na die party se hofuitdaging teen die Onteieningswet in Mei 2025 en weerspieël sy voortdurende strewe na inklusiewe ekonomiese hervormings binne die regering van nasionale eenheid.
# Saftu verwelkom die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi se verklaring dat diegene wat betrek word by die plundering van hulpbronne by die Tembisa-hospitaal, lewend of dood voor die gereg moet verskyn. Die Spesiale Ondersoekeenheid het drie gekoördineerde sindikate ontmasker wat agter die plundering van twee-miljard-rand van die hospitaal sit. Saftu se se woordvoerder, Newton Masuku, sê Motsoaledi se belofte dat die staat die boedel van die gewese uitvoerende hoof, Ashely Mthunzi, sal ondersoek om gesteelde openbare fondse te verhaal, is ‘n belangrike stap na geregtigheid:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het die spanning met Colombië verhoog en aangekondig dat alle betalings en subsidies aan die Suid-Amerikaanse land gestaak word. Die VSA het miljoene dollars in hulp aan Colombia verskaf, veral vir veiligheid en landbou. In ‘n plasing op Truth Social het Trump die Colombiaanse president Gustavo Petro as ‘n onwettige dwelmleier bestempel wat die produksie van dwelms ondersteun. Sy kommentaar volg nadat Petro die Amerikaanse regering van sluipmoord beskuldig het en antwoorde geëis het na die jongste Amerikaanse aanvalle in Karibiese waters.
# Krieket: Engeland het mede-gasvrou Indië met vier lopies in Indore verslaan en sodoende die derde nasie geword wat ‘n plek in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi vir Vroue verseker het. Engeland het die loot gewen, eerste gekolf, en 288 vir agt lopies aangeteken, met Heather Knight wat 109 van 91 balle gemoker het. In antwoord het die aanvangskolwer Smriti Mandhana 88 lopies aangeteken, en Indië het op 284 vir ses geëindig, hul derde agtereenvolgende nederlaag in die toernooi. Engeland sluit aan by Suid-Afrika en Australië in die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-75-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-263-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….