Nuus 07:00
BULLETIN 20 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit sê kernkrag het ‘n groot aandeel in Suid-Afrika se toekoms
# Aartsbiskop Makgoba sê daar is sterk kerklike steun vir die nasionale dialoog
# En Israel en Hamas beskuldig mekaar van die oortreding van die skietstilstandooreenkoms
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika sal sy elektrisiteitsopwekking uit gas en kernkrag oor die volgende 15 jaar uitbrei. Die minister het gister ‘n nuuskonferensie oor die Geïntegreerde Hulpbronplan gehou nadat dit deur die Kabinet aanvaar is. Die regering wil teen 2039 105-duisend megawatt nuwe opwekkingsvermoë byvoeg. Ramokgopa sê die land se modulêre korrelbedreaktor sal opgeknap word om kernkapasiteit te verhoog:
# Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge het besluit om ‘n finale brief aan die voormalige uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, te stuur, waarin hy gevra word om as getuie in hul toesigondersoek te verskyn. Letsoalo het SKOOR se gesag herhaaldelik betwis en aangevoer die saak val onder die Vervoerkomitee. SKOOR handhaaf sy mandaat om die fonds se finansiële bestuur, verliese en wanadministrasie te ondersoek. Die afgelope week is getuienis oor kontrakte en beskermingsdienste ter waarde van een-miljard-rand aangehoor.
# Aartsbiskop Thabo Makgoba sê verslae deur Anglikaanse biskoppe landwyd toon sterk steun vir die nasionale dialoog, veral in gemeenskappe wat die hardste getref word deur diensleweringsmislukkings. Makgoba het Suid-Afrikaners in Kaapstad aangespoor om plaaslike dialoë by te woon en die proses beskryf as ‘n straaltjie hoop teen korrupsie, onbevoegdheid en onderontwikkeling. Die Aartsbiskop sê ondanks die wantroue deur die stedelike elite, groei steun op grondvlak en gemeenskappe word aanmoedig om aktief betrokke te raak om verantwoordbaarheid en goeie bestuur te herstel.
# Die DA het aan Tshwane se munisipale bestuurder, Johann Mettler, geskryf en ʼn ondersoek gevra na die besteding op watertenkwaens in die metro. In die boekjaar wat in Junie 2025 geëindig het, was die oorbesteding hierop 457-miljoen-rand, en 672-miljoen-rand meer as wat amptenare in 2024 bestee het. Cilliers Brink van die DA sê die noodvoorsiening van water uit watertenkwaens aan geformaliseerde gebiede, is nou die grootste enkele bedryfsuitgawe van Tshwane se Departement van Water en Sanitasie:
# Israel en Hamas beskuldig mekaar van die verbreking van die skietstilstand-ooreenkoms wat Amerika bewerkstellig het. Die Israelse weermag sê Hamas het sy magte in Rafah in die suide van Gaza met vuurpyl-aangedrewe granate en skerpskutter-vuur aangeval waarna die IDF aanvalle in die gebied uitgevoer het. Israel het ook humanitêre hulp aan Gaza gestaak. Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die weermag opdrag gegee om met mag op te tree teen terroristeteikens in die Gaza-strook. Hamas sê intussen hy wil die skietstilstand-ooreenkoms nakom.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Warwick Purchase het sy eerste Sonskyntoer-titel opgeraap na ʼn oorwinning met twee houe by die Fortress-uitnodigingstoernooi by die Glendower-gholfklub in Gauteng. Sy landgenoot, Kyle Barker, is met 69 gelykop tweede saam met die Fortress-voorloper vir Nuweling van die Jaar, die Mexikaan Luis Carrera, op 17 onder baansyfer. Purchase, wat deelgeneem het nadat hy in sy vorige vier Sonskyntoer-toernooie nie die paal gehaal het nie, sê hy voel beloon om uiteindelik met sy eerste sege te spog:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-33-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-257-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….