Nuus 13:00
BULLETIN 19 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC moet sy integriteit beskerm en verdedig
# Die bestuur van die Kaapstad-marathon is verpletter deur die kansellasie van die geleentheid
# En krieket: Die Protea-vrouespan is die tweede span wat vir die Wêreldbeker-uitklopronde kwalifiseer
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die party moet sy integriteit verdedig en voer aan dat president Cyril Ramaphosa onregverdig geteiken word, selfs oor klein goedjies soos om verby ‘n man te draf wat met oortredings verbind word. Mbalula het in Mpumalanga gesê korrupsiebewerings word gebruik om die ANC in ‘n swak lig te stel en gewaarsku dat sulke praktyke die samelewing se morele struktuur ondermyn. Hy het partylede en landsburgers versoek om waaksaam te bly met die handhawing van etiese standaarde en aanspreeklikheid:
# Die uitvoerende hoof van die Kaapstad-marathon, Clark Gardner, sê hy is verpletter nadat die wedloop gekanselleer is weens sterk, onbeheerbare winde wat sowat 40 kilometer per uur bereik het. Meer as 24-duisend atlete van regoor die wêreld sou aan die 42,2-kilometer marathon deelneem. Gardner sê die besluit word deur borge en die Stad Kaapstad ondersteun, want veiligheid moet altyd eerste kom:
Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het ook sy teleurstelling uitgespreek oor die kansellasie van die marathon. Mackenzie sê die besluit, wat saam met veiligheidsowerhede geneem is, het die welstand van hardlopers, vrywilligers en toeskouers eerste gestel. Mackenzie, wat aan die 42-kilometer lange wedloop sou deelneem, het atlete aangespoor om die marathon-gees lewend te hou deur aktief te bly en by plaaslike gemeenskapswedlope aan te sluit:
# Betogers het gister in Noord-Duitsland saamgetrek en geëis dat die hoofverdagte in die verdwyning van Madeleine McCann uit sy woonplek moet padgee. Meer as 150 betogers het byeengekom oor die verblyfplek van die 48-jarige veroordeelde pedofiel en verkragter Christian B. Hy word deur die Duitse polisie daarvan verdink dat hy die driejarige Madeleine in 2007 uit haar ouers se vakansiewoonstel in Portugal ontvoer het. Sedert sy vrylating uit die tronk in September kon hy nie blyplek kry nie omdat baie hotelle hom uitsit sodra hulle besef wie hy is. Hy is ook deur sommige skuilings vir haweloses weggewys.
# En Sportnuus:
# Krieket: Die Protea-vrouespan het gister die tweede span geword om deur te dring na die IKR Wêreldbeker-halfeindronde. Dit het gevolg nadat Nieu-Seeland en Pakistan punte in Colombo moes deel nadat die wedstryd uitgereën het. Die Suid-Afrikaanse vrouespan het tot dusver ‘n soliede toernooi gehad en uitstekend herstel na ‘n 10-paaltjie-nederlaag teen Engeland in hul openingswedstryd. Hulle het teruggeveg met opeenvolgende oorwinnings oor Nieu-Seeland, Indië, Bangladesj en Sri Lanka. Die Proteas is tweede op die punteleer na Australië, wat ook gekwalifiseer het, met nog twee halfeindronde-plekke op die spel.
# En motorsport: Max Verstappen spring eerste weg in die Amerikaanse Grand Prix later vandag met Lando Norris langs hom, terwyl McLaren se Formule Een-kampioenskapsvoorloper Oscar Piastri sesde is. Piastri is 22 punte voor sy spanmaat en 55 voor Verstappen. Verstappen se aanslag vir sy vyfde agtereenvolgende titel het sleg begin, maar lyk al hoe beter na sy oorwinning gister in die snelwedren. Charles Leclerc spring derde weg en deel die tweede ry met George Russell van Mercedes. Die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton in die tweede Ferrari is vyfde en in die derde ry saam met Piastri.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….