Nuus 08:00
BULLETIN 19 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstad-marathon is weens kommer oor veiligheid gekanselleer
# Eskom behaal 154 dae sonder beurtkrag te midde van verbeterde betroubaarheid
# En rugby: Die Leeus teken ‘n eerste oorwinning aan in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Ons begin met belangrike sportnuus:
# Padwedlope: Die Kaapstad-marathon is net ure voor die aanvang gekanselleer weens veiligheidskwessies wat verband hou met sterk wind. Meer as 24-duisend deelnemers van regoor die wêreld sou die 42,2-kilometer lange wedloop aanpak. Verslae dui op skade aan die wegspringplek en ontwrigte waterstasies. Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê hy is namens die atlete hartseer oor die kansellasie, maar ondersteun die organiseerders se besluit om veiligheid eerste te stel. Die kansellasie is ‘n groot terugslag vir die marathon se bod vir insluiting in die Abbott World Marathon Majors.
En nou ander nasionale nuus:
# Eskom lewer steeds betroubare krag aan Suid-Afrika met 154 opeenvolgende dae sonder beurtkrag terwyl slegs 26 uur tussen 1 April en 16 Oktober 2025 verlore gegaan het. September se Energiebeskikbaarheidsfaktor het 70,27-persent bereik, wat minder onbeplande verliese en beter operasionele dissipline weerspieël. Gedurende die tydperk was die Energiebeskikbaarheidsfaktor 62,76-persent, met onbeplande onderbrekings wat met een-duisend-478-megawatt jaar-op-jaar gedaal het. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die nutsmaatskappy beplan om drie-duisend 890-megawatt se opwekkingsvermoë terug te plaas om die netwerkbestendigheid verder te versterk:
Eskom is intussen as die swakste presterende groot Suid-Afrikaanse maatskappy in aanlyn mediasentiment aangewys. Volgens Press Pulse se jongste verslag toon die kunsmatige intelligensie-gedrewe analise oorweldigend negatiewe dekking, wat ander staatsondernemings, insluitend Transnet, die Suid-Afrikaanse Poskantoor en die SABC, oortref. Press Pulse gebruik natuurlike taalverwerking om positiewe, neutrale en negatiewe beriggewing te meet. Dit beklemtoon Eskom se ernstige persepsieprobleem te midde van jare van wanbestuur, korrupsie en diensmislukkings wat die publiek se vertroue beïnvloed.
# Die Activists and Citizens Forum sê die geskorste polisieminister, Senzo Mchunu, se getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee is ‘n mors van tyd. Woordvoerder Dennis Bloem sê Mchunu het slegs probeer om sy ongrondwetlike besluit om die Politieke Moordtaakspan te ontbind, te regverdig. Hy sê Mchunu se interpretasie van die Grondwet is verkeerd en kom neer op politieke inmenging, en voeg by dat niemand, insluitend die minister, bokant die wet is nie:
# Gaza se Hamas-beheerde burgerlike verdediging sê 11 mense is dood, almal van dieselfde familie, nadat ‘n Israelse tenkgranaat die bus waarin hulle was in die noorde van Gaza getref het. Die Abu Shaaban-gesin het probeer om hul huis te bereik om dit te inspekteer toe die voorval Vrydagaand in die Zeitoun-woonbuurt van Gazastad plaasgevind het. Onder die slagoffers is vroue en kinders. Dit was die dodelikste enkele voorval waarby Israelse soldate in Gaza betrokke was sedert die begin van die wapenstilstand agt dae gelede. Die Israelse Weermag het Palestyne gewaarsku om gebiede in Gaza te vetmy wat steeds onder hul beheer is.
# En ten slotte rugby nuus:
# Die Leeus is uiteindelik op ‘n wenpad nadat twee laat drieë deur plaasvervanger Morne Brandon hulle ‘n 29-18 oorwinning besorg het oor die Scarlets in hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd gister op Ellispark. Die wedstryd is in aanhoudende reën gespeel en was geensins ‘n klassieke sege nie, maar ‘n desperate oorwinning deur ‘n span onder druk. Die uitslag sal van die druk op afrigter Ivan van Rooyen verlig, wat hoop dit is die ommekeer wat sy span nodig het vir die lang moeilike veldtog wat wag, nadat hulle sleg begin het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….