Nuus 11:00
BULLETIN 18 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering is verbind tot dringende hervormings in die IKT-sektor
# Ramaphosa kritiseer Israel oor die gebruik van voedsel as wapen
# En die IFP vier 50 jaar van veerkragtigheid en integriteit
# Die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi, sê die regering is daartoe verbind om ware hervorming in die IKT-sektor te dryf. Tydens ‘n beleidsvergadering in Pretoria het Malatsi frustrasies oor die gaping tussen potensiaal en lewering erken en gewaarsku dat gefragmenteerde beleid sektorgroei bedreig. Malatsi het die behoefte aan dringende optrede, beleidsbelyning en samewerking met belanghebbendes in die bedryf beklemtoon. Hy het die belangrikheid van infrastruktuur en vertroue uitgelig om Suid-Afrika se digitale transformasie te versnel:
Malantsi sê verderdie IKT-beleidseminaar is daarop gemik om die sektor te hervorm en groei in Suid-Afrika se digitale ekonomie te ontsluit. Hy sê die inisiatief dui op ‘n vars, inklusiewe benadering tot beleidskepping, wat saam met bedryfskundiges beplan word. Malatsi het beklemtoon die modernisering van verouderde beleid moet tred moet hou met tegnologiese vooruitgang, konnektiwiteit verbeter, datakoste verminder en werksgeleenthede skep deur innovasiegedrewe digitale transformasie:
# President Cyril Ramaphosa het Israel veroordeel vir sy vermeende bewapening van voedsel in Gaza. Ramaphosa het tydens die 7de Maatskaplike Geregtigheidsberaad in Kaapstad beklemtoon dat voedsel nooit as ‘n wapen gebruik mag word nie en beklemtoon dit mag nooit weer aangewend word as ‘n wapen teen mense van wie ons nie hou nie. Die president het ook kleinhandelaars aangespoor om voedselpryse binnelands te verlaag, en beklemtoon dat voedselsekerheid ‘n mensereg en noodsaaklik vir ontwikkeling is.
# Die Inkatha Vryheidsparty vier vandag sy 50ste bestaansjaar by die Jabulani-amfiteater in Soweto, onder leiding van die IFP-president Velenkosini Hlabisa. Die IFP, wat in 1975 deur wyle Prins Mangosuthu Buthelezi gestig is, het ontwikkel van ‘n kulturele beweging tot ‘n belangrike politieke mag. In ‘n verklaring sê die party dat die gekose lokaal geskiedkundige betekenis het, aangesien Prins Buthelezi die publiek dikwels daar toegespreek het. Die party sê die geleentheid vier vyf dekades van veerkragtigheid, diens en integriteit in die Suid-Afrikaanse politiek.
# Gholf: Daniel van Tonder het ‘n bysteek op die eerste bof oorkom om die voorsprong te deel met die begin van spel die naweek in die Sonskyntoer se Fortress Invitational by die Glendower Gholfklub. Van Tonder het gister ‘n tweede ronde van 69 aangeteken om ‘n voorsprong van een hou met Christiaan Burke te deel op nege onder baansyfer in geheel. Ten spyte van die ongemak wat deur die bysteek veroorsaak is, het Van Tonder sy pad oopgespeel vir sy ‘n moontlike derde oorwinning vanjaar. Daar is egter steeds ‘n uitdagende punteleer met ‘n groep van vyf spelers een hou agter die voorlopers.
# En ten slotte: Die Suid-Koreaanse skrywer van die topverkoper-outobiografie I Want to Die but I Want To Eat Tteokbokki is op die ouderdom van 35 oorlede. Baek Se-hee se 2018-boek is ‘n versameling van gesprekke met haar psigiater oor haar depressie. Dit het ‘n kulturele fenomeen geword met die temas rondom geestesgesondheid wat by lesers regoor die wêreld aanklank gevind het. Die werk, wat oorspronklik in Koreaans geskryf is, het internasionale erkenning gekry nadat die Engelse vertaling in 2022 gepubliseer is. Die Koreaanse agentskap vir orgaanskenking het Vrydag gesê Baek het haar organe geskenk, en daarmee vyf lewens gered.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….