Nuus 09:00
BULLETIN 18 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa prys die skoolvoedingsprogram
# Cosatu verwelkom die regering se stap om landswyd 79 howe vir seksuele oortredings te stig
# En sewe mense word in Philippi-Oos doodgeskiet
# President Cyril Ramaphosa het die Nasionale Skoolvoedingsprogram, wat daagliks meer as 9,7-miljoen leerders voed, geprys as een van Suid-Afrika se mees transformerende inisiatiewe. Ramaphosa het tydens die Maatskaplik-geregtigheidsberaad in Stellenbosch afgevaardigdes aangespoor om maniere te vind om leerders te ondersteun wat na skool en oor naweke honger ly. Hy het ook die program se uitbreiding aangekondig, wat nou ontbyt en middagete insluit en bywoning, konsentrasie en akademiese sukses verbeter het:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verwelkom die verwerping deur die Hooggeregshof in Pretoria van Lucky Montana, die voormalige hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, se appèl teen sy sekwestrasie. Die SAID sê gister se beslissing versterk sy verbintenis tot die handhawing van belastingnakoming en om te verseker dat persone wat hul verpligtinge ignoreer die gevolge dra. Die kommissaris Edward Kieswetter het bygevoeg dat die SAID belastingbetalersregte respekteer wat wette gehoorsaam en eerlik nakom.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die regering se besluit om 79 howe vir seksuele oortredings landwyd in te stel, is ‘n belangrike stap in die bekamping van geslagsgeweld en die verbetering van skuldigbevindingsyfers. Die organisasie sê die gespesialiseerde howe sal geregtigheid bied vir slagoffers, insluitend vroue, kinders en kwesbare groepe. Woordvoerder Matthew Parks vra die Nasionale Tesourie om te verseker dat die howe behoorlik befonds en toegerus is, met opgeleide personeel en veilige ruimtes om slagoffers teen intimidasie te beskerm:
# Die polisie in die Wes-Kaap het ‘n reuse-klopjag van stapel gestuur nadat sewe mans, tussen 20 en 30 jaar oud, gisteraand op Road 53, Better Life, in Philippi-Oos doodgeskiet is. Speurders van die Provinsiale Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade ondersoek die aanval. Die motief is nog onduidelik. Provinsiale Kommissaris Thembisile Patekile het die moorde veroordeel en die publiek versoek om inligting met die polisie op Crime Stop of die MySAPS-app te deel.
# Prins Andrew sal met onmiddellike ingang die gebruik van sy koninklike titels, insluitend Hertog van York, prysgee nadat hy die saak met Koning Charles bespreek het. In ‘n verklaring wat deur Buckingham-paleis uitgereik is, sê hy na gesprekke met die Koning, en sy onmiddellike en breër familie, was daar ooreenstemming dat die voortgesette beskuldigings teen hom aandag aflei van die werk van die Koning en die Koninklike Familie. Die prins het die beskuldigings opnuut ontken. Prins Andrew is onder toenemende druk oor sy verhouding met Jeffrey Epstein en sy bande met ‘n beweerde Chinese spioen.
# En krieket: Suid-Afrika het een voet in die halfeindronde van die 2025 Vrouewêreldbeker nadat die openingspaar Laura Wolvaardt en Tazmin Brits gister ‘n sprankelende vertoning gelewer het en mede-gasvroue Sri Lanka met 10 paaltjies in Colombo afgeransel het. Die Proteas het met foutlose spel ‘n hersiene oorwinningsteiken van 121 gemoker, met 31 balle oor van hul verkorte 20-boulbeurte. Hulle het nou na die tweede plek op die punteleer opgeskuif, ‘n punt agter Australië, wat reeds gekwalifiseer het. ‘n Oorwinning oor Pakistan Dinsdag sal ‘n plek in die halfeindronde vir Wolvaardt se span verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….