Nuus 07:00
BULLETIN 18 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu het geheime opnames van die KZN-polisiekommissaris gelas
# Die DA sê die Gautengse Onderwysdepartement moet diensverskaffers betaal omdat leerders maaltye mis
# En Donald Trump sal Xi Jinping by die APEC-beraad in Suid-Korea ontmoet
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê hy het sy stafhoof, Cedrick Nkabinde, instruksies gegee om sy gesprekke met die polisiekommisaris van KwaZulu-Natal op te neem. Mchunu het vir ‘n tweede dag voor die parlementêre ad hoc-komitee oor beweerde polisiekorrupsie getuig. Hy sê die spanning het vererger nadat Mkhwanazi woedend reageer het op die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde, wat hom aangespoor het om hul gesprekke op te neem. Die snit met ‘n beweerde dreigement is uit die klank gesny:
# Die DA sê duisende leerders in Gauteng ly honger nadat diensverskaffers vir die nasionale skoolvoedingsprogram nie betaal is nie. Die party voer aan die probleem raak nege skole in Tembisa en Ivory Park, en dring daarop aan dat die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, dringend uitstaande fakture moet vereffen. Sergio Isa Dos Santos van die DA eis ook ‘n onafhanklike forensiese ondersoek na hoe die program bestuur word, met verwysing na wanbestuur en op-die-nippertjie veranderinge wat maaltydaflewerings ontwrig:
# Die Mashishing-landdroshof in Mpumalanga het borgtog van twee-duisend-rand elk toegestaan aan vier polisiebeamptes van Limpopo en ‘n burgerlike wat in hegtenis geneem is vir ‘n huisroof in Mashishing, Lydenburg. Die voorwaardes sluit in dat hulle die klaers se woning vermy, nie by die saak inmeng nie, en die owerhede van enige adresveranderinge in kennis stel. Die verdagtes, onder wie sersant Lucky Shogolo en konstabels Thapelo Ledwaba, Malesela Huma en Saraphina Senama, staar verdere ondersoeke in die gesig na onwettige sigarette ter waarde van 1,5-miljoen-rand en kontant van 950-duisend-rand teruggevind is. Hulle volgende hofverskyning is op 21 Januarie volgende jaar.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het aan Fox News gesê hy sal samesprekings met sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping, voer tydens die komende APEC-beraad in Suid-Korea. Die Asies-Pasifiese beraad vind plaas op 31 Oktober en 1 November in die Suid-Koreaanse stad, Gyeongju. Trump het gedreig om die vergadering te kanselleer terwyl die handelsoorlog vererger deur te dreig dat hy 100-persent-tariewe op goedere gaan hef op die wêreld se tweede grootste ekonomie.
# Padwedlope: Die 2025 Sanlam Kaapstad-marathon vind hierdie naweek plaas met verskeie wedlope wat by die Kaapstad-stadion plaasvind. Vandag sal daar veldwedlope oor 11- en 22-kilometer wees, met 10- en vyf-kilometer padwedlope. Die hoofwedlope Sondag sluit in die 42.4-kilometer-marathon sowel as ‘n 41-, 10- en vyf-kilometer-padwedlope. Die gunstelinge sluit die Suid-Afrikaanse rekordhouer, Elroy Gelant, en top internasionale aanspraakmakers in. In die vrouewedloop is Suid-Afrika se Gerda Steyn die groot gunsteling, met moontlike strawwe kompetisie deur elite-atlete uit Kenia en Ethiopië.
# En ten slotte: ‘n Taiwanese lugredery het om verskoning gevra nadat hulle dokumente aangevra het van ‘n werknemer wat reeds dood is. ‘n Vier-en-dertigjarige lugwaardin van Eva Air is in die hospitaal dood nadat sy tydens ‘n vlug siek geword het. Die lugredery het ‘n boodskap na haar foon gestuur waarin hulle vra vir dokumente wat bewys dat sy aansoek gedoen het vir verlof vir die tydperk wat sy in die hospitaal was. Die meisie se familie het geantwoord met ‘n afskrif van haar doodsertifikaat. Eva Air is voorheen al sewe keer beboet, meestal vir oortredings rondom personeel se oortydwerk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….