Nuus 15:00
BULLETIN 17 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê om vry te wees van honger is ‘n morele en grondwetlike plig
# Trump verwelkom Zelensky vandag in die Withuis
# En krieket: Rekordgetalle kykers skakel in vir die Wêreldbeker vir vroue
# President Cyril Ramaphosa sê om vry te wees van honger is ‘n morele sowel as ‘n ontwikkelingsvereiste. Hy het tydens die sewende Maatskaplike Geregtigheidsberaad van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid in Kaapstad beklemtoon dat toegang tot voedsel en water ‘n grondwetlike reg is, wat ‘n verpligting op die staat plaas om dit te verwesenlik. Ramaphosa beklemtoon dat Suid-Afrika onder slegs 29 lande is waar burgers regstappe kan doen om dit af te dwing:
Professor Thuli Madonsela van die Universiteit Stellenbosch sê intussen geslagsgeweld en misdaad ondergrawe menslike veiligheid deur basiese menseregte te skend. Sy het op die beraad gesê Israel se oorlog in Gaza en die voortdurende konflik tussen Rusland en Oekraïne bedreig menslike veiligheid. Madonsela voeg by dat vrede en die planeet bedreig word en dit is die belangrikste aandrywers van voedselnood:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het aanbeveel dat die proses om ‘n nuwe kommissaris vir die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aan te stel, van voor af moet begin na prosedurele kwessies tot vertragings gelei het. Die vakature volg na die bedanking van die ondervoorsitter, Fatima Chohan, in April. Die komitee se voorsitter, Xola Nqola, sê daar was meningsverskille oor stemreg vir lede wat afwesig was tydens onderhoude, wat vertragings veroorsaak het. Die komitee het nou aanbeveel dat die hele aanstellingsproses van voor af begin.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, verwelkom later vandag sy Oekraïense ampsgenoot, Volodimir Zelensky, in die Withuis vir ‘n vergadering wat Oekraïne gehoop het sou lei tot groter militêre steun. Zelensky het probeer om druk uit te oefen vir Amerikaanse Tomahawk-missiele. Die Russiese president, Vladimir Putin, het egter gister tydens ‘n telefoongesprek met Trump gesê die verskaffing van langafstandmissiele aan sy buurland sal die vredesproses benadeel en die betrekkinge tussen die twee moonthede skaad. Trump se houding na die oproep het die waarskynlikheid van onmiddellike militêre steun verminder.
# Krieket: Die Vroue-Wêreldbeker het alreeds rekord-kykerstalle behaal met 60-miljoen aanhangers wat ingeskakel het om die eerste 13 eendagwedstryde te sien. Dit is die eerste vrouetoernooi waar die prysgeld meer is as die vorige mans-toernooi. Daar is agt spanne wat aan die 13de weergawe van die toernooi deelneem. Die skouspel, wat in Indië en Sri Lanka gespeel word, het verlede maand begin. Die titel sal na die eindstryd op 2 November toegeken word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-292-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-309-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….