Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Volgende jaar se reeks tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland is amptelik bevestig. Die Springbokke sal tydens die afwisselende vierjaarlikse toer in Augustus en September gasheer wees vir die All Blacks. Nieu-Seeland sal teen die Stormers, Haaie, Bulle en Leeus speel, asook ‘n reeks van vier toetse teen die Bokke. Drie toetse sal in Suid-Afrika plaasvind en die vierde op ʼn neutrale plek wat nog aangekondig moet word. Die Springbokke sal in 2030 in ʼn soortgelyke formaat na Nieu-Seeland gaan.
SA Rugby beplan intussen ‘n elite-, volledige beroepskompetisie vir vroue volgende jaar. SARU se president, Mark Alexander, sê dit volg op die Springbok-vroue se puik vertoning op die die Wêreldbekertoernooi in Engeland, waar hulle die heel eerste keer die kwarteindronde gehaal het. Hy sê die potensiaal vir groei in die vrouespel in die land is fantasties, en terwyl die spelersbasis groei, sal uitnemendheid op hoëprestasievlak ook groei. Alexander glo dit is nie ‘n kwessie van of Suid-Afrika se vroue die Wêreldbeker kan wen nie, maar wanneer.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het vyf-miljoen-rand se bonusse aan Bafana Bafana se spelers en personeel beloof nadat hulle die eerste keer in 16-jaar vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer het. McKenzie het die aankondiging in die kleedkamer gedoen na Suid-Afrika se oorwinning van 3-0 oor Rwanda en hulle vasberadenheid geprys. Hy het afrigter Hugo Broos ook geloof vir die gedaante-wisseling van die span en gesê hulle het die land trots gemaak.
# Krieket: Die Protea-vroue speel vandag teen die mede-gasvrou, Sri Lanka, in ‘n Wêreldbeker-groepwedstryd in Colombo. Suid-Afrika is tans derde op die punteleer na agtereenvolgende oorwinnings oor Nieu-Seeland, Indië en Bangladesj nadat hulle die openingswedstryd teen Engeland verloor het. Engeland is boaan die punteleer na drie oorwinnings en Woensdag se onbesliste uitslag teen Pakistan. Die verdigende kampioen, Australië, is tweede en Indië vierde, gevolg deur Nieu-Seeland, Bangladesj, Sri Lanka en Pakistan.
# En motorsport: Die Internasionale Motorfederasie het die naweek se Formule Een Grand Prix in Amerika verklaar tot ‘n wedren met gevaarlike hittetoestande te midde van hoë temperature in Austin. Temperature in Sentraal-Texas sal na verwagting tydens môre se snelren en Sondag se wedren tot bo die perk van 31-grade Celsius styg. Dit is die tweede agtereenvolgende wedren waar renjaers die keuse sal hê om verkoelings-frokkies te dra, soos in die Singapoerse Grand Prix vroeër die maand. Dit sal van volgende jaar ‘n verpligte kenmerk wees in wedrenne met hitte-waarskuwings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….