Nuus 12:00
BULLETIN 17 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu waarsku om fondse in een eenheid te stort, sal nie die bendegeweld op die Kaapse Vlakte oplos nie
# Die nasionale dialoog betree die volgende fase, die aanstelling van die reëlingskomitee
# En, die SAID herinner belastingbetalers aan die 20 Oktober-indieningsdatum
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê die storting van fondse in ‘n enkele polisie-eenheid sal nie bendegeweld op die Kaapse Vlakte in Kaapstad oplos nie. Mchunu het die eerste keer voor die komitee verskyn om sy weergawe te gee in die voortgesette ondersoek na politieke inmenging in die strafregstelsel. Hy sê te veel fokus op een gebied, beperk die polisie se vermoë om geweld te pak wat gemeenskappe landwyd raak:
# Die Presidensie sê die nasionale dialoogproses het ‘n beslissende stadium bereik met die voltooiing van die benoeming van sektorverteenwoordigers op die reëlingskomitee. Die nasionale konvensie wat in Augustus gehou is, het die mandaat, verantwoordelikhede en samestelling van die komitee goedgekeur. Die Presidensie sê 26 sektore het benoemings vir die komitee ingedien. Hy sê die komitee sal ondersteun en gelei word deur die Vooraanstaande Groep Persone wat die taak het om die dialoog te bevorder en raad te verskaf.
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het nie-voorlopige belastingbetalers aangespoor om hulle jaarlikse inkomstebelastingopgawes teen Maandag in te dien. Sewe-komma-nege-miljoen belastingbetalers het tot dusver opgawes ingedien, terwyl meer as 850-duisend steeds uitstaande is. Kieswetter het gewaarsku dat versuim om in te dien ‘n ernstige oortreding is, wat boetes en rente tot gevolg het. Hy het belastingbetalers wat vroeg ingedien het geprys en gesê voldoening versterk openbare dienste. Hy spoor mense aan om nou in te dien ten einde foute en vertragings te vermy.
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Koninkryk se binnelandse veiligheidsdiens, MI-5, waarsku dat Brittanje ‘n toenemende bedreiging van vyandige lande ondervind, insluitend Iran, Rusland en China, terwyl die risiko vir terrorisme enorm bly. Die VK het verlede jaar ‘n toename van 35-persent ondervind in die aantal verdagtes wat vir moontlike werk vir ‘n vyandige buitelandse regering ondersoek is. Die hoof van die MI-5, Ken McCallum, sê dit is kommerwekkend dat een uit elke vyf van die 232 mense wat verlede jaar vir terrorisme vasgetrek is, jonger as 17 was:
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het vyf-miljoen-rand se bonusse aan Bafana Bafana se spelers en personeel beloof nadat hulle die eerste keer in 16-jaar vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer het. McKenzie het die aankondiging in die kleedkamer gedoen na Suid-Afrika se oorwinning van 3-0 oor Rwanda en hulle vasberadenheid geprys. Hy het afrigter Hugo Broos ook geloof vir die gedaante-wisseling van die span en gesê hulle het die land trots gemaak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-179-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-341-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….