Nuus 08:00
BULLETIN 17 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee se werksaamhede word verleng
# President Trump sê hy sal met Putin in Hongarye vergader om die oorlog in Oekraïne te bespreek
# En rugby: Rugby se Grootste Wedywers-toer tussen die Springbokke en All Blacks is bevestig
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings ondersoek, het nou tot 28 November om sy werk af te handel. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die uitstel toegestaan. Die komitee moes sy werk aanvanklik teen einde Oktober afhandel. Dit ondersoek bewerings van misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel. Tot dusver het Mkhwanazi en die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola getuienis gelewer, terwyl die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sy getuienis vandag voortsit.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het gister die eerste vergadering belê van die adviespaneel wat die nasionale direkteur van Openbare Vervolging moet aanwys. Die paneel wat deur president Cyril Ramaphosa aangewys is, moet moontlike kandidate vir die pos identifiseer en met hulle onderhoude voer. Advokaat Shamila Batohi se termyn verstryk in Januarie. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê die vergadering is ‘n betekenisvolle stap om bevoegde, etiese en onafhanklike leierskap vir die Nasionale Vervolgingsgesag te verseker:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy is bekommerd oor die misleidende storie in ʼn nasionale publikasie met die opskrif: “Hunger Stalks Gauteng Pupils”. Die saak hou verband met een diensverskaffer in die Nasionale Skoolvoedingsprogram in Tembisa, Ekurhuleni. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hy het Woensdag kennis geneem dat een diensverskaffer weier om ʼn nuwe afleweringsprogram te aanvaar, met die gevolg dat kos by nege skole in Tembisa en Ivory Park nie afgelewer is nie:
# President Donald Trump sê hy sal sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, in Hongarye ontmoet om te beraadslaag oor die einde van die oorlog in Oekraïne. Dit volg na hulle telefoongesprek gister. Die twee leiers het in Augustus in Alaska van aangesig tot aangesig ontmoet. Intussen ontvang Trump vandag die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, by die Withuis. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê president Trump is daartoe verbind om die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te beëindig:
# Rugby: Rugby’s Greatest Rivalry-toer tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland is amptelik bevestig. Tydens die afwisselende vierjaarlikse toer sal die Springbokke in Augustus en September volgende jaar gasheer wees vir die All Blacks. Nieu-Seeland sal teen die Stormers, Haaie, Bulle en Leeus speel, asook ʼn reeks van vier toetse teen die Bokke. Drie toetse sal in Suid-Afrika plaasvind en die vierde op ʼn neutrale plek wat nog aangekondig moet word. Die Springbokke sal in 2030 in ʼn soortgelyke formaat na Nieu-Seeland gaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-67-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-356-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….