Nuus 07:00
BULLETIN 17 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê Imtiaz Fazel se skorsing sal nie die bedrywighede van die intelligensiedienste ontwrig nie
# Die Shoprite-groep rapporteer ‘n effense verbetering in die land se voedselsekerheid
# En krieket: Die Protea-vroue kom vandag teen Sri Lanka te staan in die Wêreldbeker
# Die minister in die Presidensie, Khumbduzo Ntshavheni, sê die kantoor van die inspekteur-generaal van Intelligensie is ten volle operasioneel, ten spyte van Imtiaz Fazel se skorsing. President Cyril Ramaphosa het die inspekteur-generaal geskors ná klagtes oor sy gedrag. Ntshavheni sê mense moenie verwar word oor die rolle wat misdaadintelligensie, staatsekerheid en die kantoor van die inspekteur-generaal van Intelligensie speel nie:
Die DA het intussen sy diepe kommer uitgespreek oor Ramaphosa se skorsing van Fazel. Die party sê die stap kom te midde van toenemende bewyse van politieke inmenging en korrupsie binne veiligheidstrukture. Dianne Kohler Barnard van die DA waarsku dat Fazel se skorsing, tesame met aanvalle op ander teenkorrupsie-amptenare, ‘n kommerwekkende patroon weerspieël wat daarop gemik is om fluitjieblasers te ondermyn, wat die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie en die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat insluit.
# Die Shoprite-groep het ‘n effense verbetering in Suid-Afrika se voedselsekerheid vir die jaar gerapporteer. Volgens sy onafhanklik saamgestelde Suid-Afrikaanse voedselsekerheidsindeks het dit landwyd tot 56,4 punte gestyg, teenoor 44,9 punte verlede jaar. Terwyl die meeste provinsies winste aangeteken het, het die Oos-Kaap agtergebly, en huishoudings met vroue aan die hoof bly meer kwesbaar. Sanjeev Raghubir van die groep sê die toename weerspieël verbeterings in dieetdiversiteit, uitgebreide skoolvoedingskemas en laer voedselinflasie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, het ‘n kennisgewing van voorneme gepubliseer om die buitengewone maatreëls om talle taxi-roetes te sluit, met nog 30 dae te verleng. Die roetes tussen Somerset-Wes, Mfuleni, Khayelitsha, en die Strand is verlede maand vir 30 dae gesluit weens ʼn geskil tussen die taxiverenigings, CATA en CODETA, wat tot tien mense se dood gelei het. Sileku sê die verenigings moet binne 24 uur kommentaar lewer oor die kennisgewing:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het herhaal dat sy regering militêre optrede sal hervat indien sy land weer aangeval word. Hamas het tydens ʼn skietstilstandooreenkoms die laaste 20 oorlewende gyselaars na Israel teruggestuur, maar slegs nege liggame van die 28 gyselaars wat in aanhouding dood is. Netanyahu het hom gister tydens ʼn herdenkingseremonie by die Berg Herzl nasionale begraafplaas in Jerusalem opnuut daartoe verbind om seker te maak alle Israelse en buitelandse gyselaars se oorskot word teruggegee. Hy sê hulle stryd teen terrorisme sal met volle mag voortgaan.
# Krieket: Die Protea-vroue speel vandag teen die mede-gasvrou, Sri Lanka, in ‘n Wêreldbeker-groepwedstryd in Colombo. Suid-Afrika is tans derde op die punteleer na agtereenvolgende oorwinnings oor Nieu-Seeland, Indië en Bangladesj nadat hulle die openingswedstryd teen Engeland verloor het. Engeland is boaan die punteleer na drie oorwinnings en Woensdag se onbesliste uitslag teen Pakistan. Die verdedigende kampioen, Australië, is tweede en Indië vierde, gevolg deur Nieu-Seeland, Bangladesj, Sri Lanka en Pakistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-846-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-336-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….