Nuus 16:00
BULLETIN 16 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet is tevrede met die finale voorbereidings vir die G20-beraad
# Julius Malema doen ‘n beroep vir ‘n fokus op die wet en nie ras nie op die Parlement se ad hoc-komitee
# En rugby: SANZAAR bevestig die Rugbykampioenskap gaan nie volgende jaar plaasvind nie
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet is tevrede met die finale voorbereidings vir die G20-beraad, wat van 18 tot 20 November plaasvind. Die G20-maatskaplike beraad is die vlagskipplatform vir die integrasie van die stemme van die burgerlike samelewing in die G20-besluitnemingsproses. Ntshavheni sê president Cyril Ramaphosa het Vrydag ‘n inspeksie by die NASREC-uitstalsentrum in Johannesburg onderneem om die gereedheid van die sentrum te evalueer:
# Die EFF-leier, Julius Malema, het rasgebaseerde bewerings verwep tydens die Parlement se ad hoc-komiteeverrigtinge en lede aangespoor om op die wet en feite te fokus, eerder as op emosies. Malema het na aanleiding van bewerings van rasse-vooroordeel gesê niemand neem aan die komitee deel as gevolg van hul velkleur nie. Hy beklemtoon die Parlement se plig is om beginselvas te bly en deur die wet gelei te word, nie deur ras, geslag of persoonlike gevoelens nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Forum vir Gyselaars en Vermistes se Families vra die Israeliese regering om onmiddellik die instelling van enige verdere fases van die vredesooreenkoms te staak. Die forum meen Hamas hou aan om sy verpligtings te skend wat betref die terugkeer van alle gyselaars en die oorskot van slagoffers. Volgens die raamwerk wat die Amerikaanse president, Donald Trump, uitgestippel het, is die volgende fase van die skietstilstand die aanbod van amnestie aan Hamas-leiers wat hulle wapens neerlê, en die daarstel van ‘n regering vir Gaza na die oorlog.
# Rugby: Die beheerliggaam SANZAAR het bevestig dat die Rugbykampioenskap nie volgende jaar gaan plaasvind nie. Die kompetisie, wat die Springbokke die afgelope twee seisoene gewen het, sal plek maak vir internasionale toere, met ‘n aankondiging oor ‘n beplande Nieu-Seelandse toer na Suid-Afrika wat binnekort verwag word. Die kampioenskap sal in 2027 hervat met ‘n vol skedule voor die Wêreldbekertoernooi in Australië. SANZAAR sê die gesamentlike onderneming van die afgelope 30-jaar tussen Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië het die suidelike halfrond nege uit tien Wêreldbekers besorg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-574-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-238-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-3-sent per vat.
# En laastens: Die Nelson Mandela-stigting het aangekondig dat die 23ste jaarlikse Nelson Mandela-lesing nou in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg sal plaasvind. Die geleentheid sal steeds die 25ste van dié maand om drie-uur die middag begin. Die verskuiwing volg op oorweldigende belangstelling nadat kaartjies binne 30-minute uitverkoop is. Die Verenigde Nasies se spesiale rapporteur oor die Besette Palestynse Gebiede, Francesca Albanese, sal die lesing lewer oor vanjaar se tema: Verbetering van Vrede en Globale Samewerking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….