Nuus 08:00
BULLETIN 16 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die steenvrug-uitvoerooreenkoms met China sal verligting bring
# Hamas sê hulle het alle gyselaarsliggame oorhandig waartoe hulle toegang het
# En motorsport: Russell en Antonelli sal volgende jaar as Mercedes se renjaers voortgaan
# Die DA verwelkom die ondertekening van ‘n belangrike steenvrugte-handelsprotokol tussen Suid-Afrika en China en sê dis ʼn deurbraak vir die landbousektor. Die ooreenkoms maak die Chinese mark toeganklik vir vyf soorte Suid-Afrikaanse steenvrugte, naamlik appelkose, perskes, nektariens, pruime en pruimedante. Willie Aucamp van die DA sê oop deure na Asië en ander streke met groot aanvraag sal Suid-Afrikaanse landbou help om meer mededingend te wees en dit beter beskerm teen wêreldwye handelskokke:
# Die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge het teenstrydige getuienis aangehoor oor regstreekse eise by die Padongelukkefonds sonder om deur ʼn prokureur te werk. SKOOR hoor hierdie week getuienis aan oor verkryging en finansiële bestuur. Amptenare van die fonds het verlede week gesê hulle moedig eisers wie se sake onopgelos is, aan om na vore te kom en regstreeks gehelp te word. Die fonds se kommunikasiehoof, McIntosh Polela, het egter gister aan die komitee gesê dis vir hom baie duidelik dat wetgewing nie regstreekse eise toelaat nie:
# Die Jeugafdeling van die Vryheidsfront Plus Jeug sê die ANC en EFF se rasgebaseerde retoriek veroorsaak onrus en geweld op universiteitskampusse. Dit volg na betogings by die Universiteit van die Vrystaat oor bewerings dat die nuwe finansiële beleid volgens ras diskrimineer. VF Plus-jeugleier Chriszaan du Plessis sê die beleid is redelik en raak nie studente van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie. Du Plessis beskuldig sommige groepe daarvan dat hulle dit in ‘n rassekwessie omskep:
# Hamas sê hy het die oorskot oorhandig van al die Israelse gyselaars wat hy kon bereik. Nog twee liggame is gister oorhandig nadat die militante groep reeds die liggame van sewe van die 28 oorlede gyselaars teruggegee het. Israel sê ʼn agste liggaam is nie dié van ʼn gyselaar nie. Dit beteken 19 se liggame is nog nie opgespoor nie. Hamas sê hy het tyd en spesiale toerusting nodig om die res uit die ruïnes van Gaza te herwin.
# Motorsport: Mercedes het bevestig dat George Russell en Kimi Antonelli hulle renjaerspan bly vir die 2026 Formule Een-seisoen. Russell, wat in 2022 by die Silver Arrows aangesluit het, het sedertdien vyf Grand Prix-seges behaal. Nuweling Antonelli het vanjaar die voorste wegspringplek in die snelwedren in Miami opgeraap, en in Kanada het hy die jongste renjaer in F1-geskiedenis geword wat ʼn podiumplek behaal. Daar is nog net vier plekke beskikbaar op die 2026-wegspringplek: een elk by Red Bull en Alpine, en twee by Racing Bulls.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32 sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-26 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-560 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-238 dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-13-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….