Nuus 07:00
BULLETIN 16 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa het die inspekteur-generaal van Intelligensie Imtiaz Fazel geskors
# ‘n Forensiese ontleder ontken die korrupsiebewerings wat by die Madlanga-ondersoek geopper is
# En rugby: Die Bulle draf teen Connacht uit met ‘n nuwe beginspan en nuwe kaptein
# President Cyril Ramaphosa het die inspekteur-generaal van Intelligensie, Imtiaz Fazel, met onmiddellike ingang geskors, hangende ‘n ondersoek na Fazel se gedrag deur die parlementêre gesamentlike komitee oor Intelligensie. Ramaphosa het hom in 2022 aangestel ná sy benoeming deur die Nasionale Vergadering. Die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa se skorsing van Fazel is ooreenkomstig die Grondwet:
# Die forensiese ontleder Calvin Rafadi het korrupsiebewerings ontken wat by die Madlanga-kommissie van ondersoek gemaak is. WhatsApp-boodskappe wat as bewyse aangebied is, toon na bewering dat Rafadi finansiële hulp van sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala gevra het vir huur, petrol en klasgelde, in ruil vir die ontwikkeling van media-boodskappe wat Matlala bevoordeel. Volgens MDN News het Rafadi die bewerings ontken en gesê dis deel van ‘n groter veldtog om hom te diskrediteer omdat hy Misdaadintelligensie se hantering van misdaadondersoeke gekritiseer het.
# Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê ná die skandaal by die Tembisa-hospitaal het hulle finansiële beheer versterk wat sal help om maandelikse uitgawes by die verskillende instellings te oudit. ʼn Ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid het drie gekoördineerde sindikate ontbloot wat twee-miljard-rand by die hospitaal geplunder het deur ʼn ingewikkelde web van korrupsie en bedrog. Nkomo-Ralehoko sê hulle wil wanadministrasie uitroei:
# Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, sê pogings gaan voort om die slagoffers van Sondag se noodlottige busongeluk naby Louis Trichardt uit te ken. Drie-en-veertig mense is in die ongeluk dood. Die meeste passasiers was burgers van Zimbabwe en Malawi wat van die Oos-Kaap na Harare gereis het. Ramathuba sê hulle werk saam met Zimbabwiese en Malawiese owerhede om met die uitkenning te help. Die polisie het ʼn saak van strafbare manslag aanhangig gemaak en die Padverkeerbestuurskorporasie is besig met ʼn tegniese verslag oor die voorval.
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, vra vrede deur mag om die konflik in Oekraïne te beëindig, en dat Rusland sy onnodige bloedvergieting staak. NAVO se ministers van Verdediging wat reeds meer hommeltuie aan Oekraïne beloof het, het gister in Brussel vergader. Hegseth sê as daar op die kort termyn geen weg na vrede is nie, sal Amerika en sy bondgenote die nodige stappe doen om Rusland te laat betaal vir sy voortgesette aggressie:
# Rugby: Reinhardt Ludwig sal môreaand kaptein wees van ‘n feitlik nuwe Bulle-span vir die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Connacht in Galway, Ierland. Hoofafrigter Johan Ackermann het elf veranderinge aan sy opdrafspan gemaak na verlede week se nederlaag teen Ulster wat die Pretoriase span van eerste na sesde op die punteleer laat tuimel het. Die span is sonder die Springbok-losskakel Handré Pollard, wat terug is in Suid-Afrika vir die geboorte van sy tweede kind. Keagan Johannes sal die nommer tien-trui dra, met die Springbok-staatmaker Willie le Roux op heelagter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-957-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-225-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….