Nuus 17:00
BULLETIN 15 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak in die geregtelike ondersoek na Albert Luthuli se dood sal op 30 Oktober gelewer word
# Eugene de Kock is te siek om in die geregtelike doodsondersoek na die Cradock Vier te getuig
# En Saai waarsku Onderstepoort se treurmares bedreig boere
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg sal op 30 Oktober uitspraak lewer in die heropende geregtelike ondersoek na die dood van die voormalige president van die ANC, hoofman Albert Luthuli, in 1967. Die staat het in sy slotbetoog teenstrydighede in die oorspronklike ondersoek uitgelig en die hof gevra om te beslis dat Luthuli vermoor is. Natasha Ramkisson-Kara van die Nasionale Vervolgingsgesag sê aanklaers het ook ‘n ondersoek aangevra na die verdwyning van ooggetuie Mbhemu Mnyandu, wat vermoedelik met die saak verbind word:
Die voormalige bevelvoerder van Vlakplaas, Eugene de Kock, sal intussen nie in die geregtelike ondersoek na die dood van die Cradock Vier getuig nie weens swak gesondheid. Die Hooggeregshof in Gqeberha het sy verhoor hervat na die moord op die anti-apartheidsaktiviste Matthew Goniwe, Fort Calata, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkhonto in 1985. Hul verkoolde liggame is naby die stad gevind. De Kock sou vandag getuig, maar die prokureur Howard Varney het die hof gevra om voort te gaan ondanks sy afwesigheid:
# Die Suider-Afrikaanse Landbou-inisiatief, Saai, het kommer uitgespreek oor die ineenstorting van Suid-Afrika se staats-entstofvervaardiger, Onderstepoort Biologiese Produkte, na aanleiding van sy 2024/25-jaarlikse prestasieverslag. Hy het slegs 62-persent van sy teikens bereik en 100-miljoen-rand se inkomste verloor, terwyl entstofvervaardiging met 24-persent gedaal het. Dit veroorsaak dat boere kwesbaar is vir voorkombare veesiektes. Saai se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, sê dis onaanvaarbaar dat die Departement van Landbou voortgaan om Onderstepoort teen aanspreeklikheid te beskerm, terwyl Suid-Afrika se veebedryf weens voorkombare siekte-uitbrekings ineenstort.
# Sokker: Marokko het die wêreldrekord vir agtereenvolgende internasionale oorwinnings tot 16 verbeter met hul oorwinning van 1-0 oor Kongo in ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder in Rabat. Fenerbahçe se doelskieter, Youssef En-Nesyri, het die enigste doel van die wedstryd vir die Atlas Lions aangeteken, wat vroeër die maand reeds kwalifiseer het met ‘n sege van 5-0 oor Niger. Die span het in 2022 verras deur die Wêreldbeker-halfeindronde te haal en was die eerste Afrika-land om te kwalifiseer vir volgende jaar se toernooi in Amerika, Kanada en Mexiko.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-596-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het sy meegevoel betuig met die regering en mense van Kenia na die dood van die voormalige eerste minister, Raila Odinga, op die ouderdom van 80. Hy is oorlede terwyl hy in Indië was vir mediese behandeling. Ramaphosa beskryf Odinga as ‘n patriotiese en onselfsugtige leier wat verbind was tot Kenia se ontwikkeling en vrede reg oor die vasteland. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Odinga se familie, vriende en kennisse is in die president se gedagtes en gebede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….