Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, het Suid-Afrika gelukgewens met sy kwalifisering vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Bafana Bafana het Rwanda met 3-0 verslaan en is bo-aan die punteleer in Groep C voor Nigerië en Benin. Suid-Afrika is die negende Afrika-span wat vir die uitgebreide toernooi met 48 spanne kwalifiseer, en sluit aan by Marokko, Tunisië, Egipte, Algerië, Ghana, Kaap Verde, Ivoorkus en Senegal. Infantino sê dis ‘n groot prestasie vir Bafana Bafana om hul eerste kwalifisering vir dié wêreld-pronkstuk sedert 2002 te verseker:
Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, beplan intussen om uit te tree na die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada. Die 73-jarige Belg sê om sy loopbaan op die toernooi af te sluit voel soos die perfekte einde van sy dekade-lange reis in die sport:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die kragmeting met Eddie Jones se Japanse span op Wembley in Londen op 1 November gaan taai wees. Suid-Afrika speel op die jaareind-toer ook in Parys teen Frankryk, in Turyn teen Italië, in Dublin teen Ierland en in Cardiff teen Wallis nadat hulle vroeër dié maand die Rugbykampioenskaps-titel die tweede agtereenvolgende jaar gebuit het. Erasmus sê hulle speel nie dikwels teen Japan nie, maar hy verwag ‘n interessante en genotvolle wedstryd op ʼn ikoniese stadion:
# Krieket: Die gewilde Twee-miljoen-rand-vangskoot keer terug in die vierde seisoen van die SA20, wat op 26 Desember begin. Toeskouers in die pawiljoen wat die bal met een hand vang, deel prysgeld van twee-miljoen-rand aan die einde van die toernooi, terwyl deelnemers wat die borg, Betway, se Catch Game-speel, hulle prysgeld verdriedubbel. Kommissaris Graeme Smith sê die kompetisie het ‘n integrale deel van die pawiljoen-ondervinding geword en is ‘n gunsteling onder toeskouers by die 34 wedstryde. Die eindstryd word op 25 Januarie gespeel.
# En tennis: Die winsgewende Six Kings Slam met ses van die wêreld se beste spelers begin vandag in Riaad, Saoedi-Arabië. Die eerste kwarteindstryd is tussen die Duitser Alexander Zverev en die Amerikaner Taylor Fritz en die tweede tussen die Italianer Jannik Sinner en die Griek Stefanos Tsitsipas. Die twee wenners speel dan onderskeidelik teen die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, en die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Al die deelnemers aan die vertoon-toernooi sal 26,2-miljoen-rand verdien, en die wenner ‘n verdere 78,5-miljoen-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….