Nuus 12:00
BULLETIN 15 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Steenhuisen onderteken ‘n belangrike steenvrugte-handelsprotokol met China
# Die EFF verwelkom die skietstilstandsooreenkoms vir Gaza met skeptisisme
# En Venezuela sluit sy ambassade in Noorweë oor die toekenning van die Nobelprys vir Vrede aan sy opposisieleier
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, en die Chinese doeane-administrateur, Sun Meijun, het ‘n geskiedkundige handelsprotokol vir steenvrugte in Sjanghai, China, onderteken. Amerikaanse tariewe plaas tans druk op uitvoerders en daarom hou hierdie ooreenkoms groot moontlikhede in wat China se sterk mark betref. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê toegang tot die Chinese mark kan oor die volgende vyf jaar sowat 400-miljoen-rand vir die land ontsluit, wat moontlik oor die volgende tien jaar kan verdubbel:
# Die EFF sê hy verwelkom die Amerikaans-bemiddelde wapenstilstandooreenkoms vir Gaza met versigtigheid en ‘n gevoel van geskiedkundige skeptisisme. In die eerste fase van die vredesplan is al 20 oorlewende Israelse gyselaars en die oorskot van vier oorhandig. Ongeveer twee-duisend Palestynse gevangenes wat in Israel aangehou is, is ook vrygelaat. Die EFF sê die Amerikaanse president, Donald Trump, se betrokkenheid by die bemiddeling van die ooreenkoms wek kommer, aangesien sy administrasie se rekord nie vertroue inboesem in die langtermyn-sukses van hierdie vredesplan nie.
Die Vryheidsfront Plus sê intussen dis tyd dat Suid-Afrika diplomatieke bande met Israel normaliseer om sy opregte verbintenis tot blywende vrede in die Midde-Ooste te demonstreer. Die regering het die land se ambassadeur in Israel, Sisa Ngombane, in November 2023 herroep weens kommer oor veiligheid tydens die konflik. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê die afwesigheid van ‘n ambassadeur toon ʼn algehele gebrek aan diplomatieke toewyding om te help om die konflik op te los:
# Venezuela het aangekondig dat hy sy ambassade in Noorweë gaan sluit nadat opposisieleier María Corina Machado die Nobelprys vir Vrede ontvang het. Die Nobelkomitee in Oslo gee haar erkenning vir haar bevordering van demokrasie in Venezuela terwyl president Nicolás Maduro die 58-jarige as ‘n demoniese heks beskryf Die Noorse Ministerie van Buitelandse Sake het Venezuela se besluit as betreurenswaardig bestempel en sê die Nobelprys is onafhanklik van die regering. Machado voer al jare lank ‘n veldtog teen Maduro terwyl baie nasies sy bewind van 12-jaar as onwettig beskou.
# Krieket: Die gewilde Twee-miljoen-rand-vangskoot keer terug in die vierde seisoen van die SA20, wat op 26 Desember begin. Toeskouers in die pawiljoen wat die bal met een hand vang, deel prysgeld van twee-miljoen-rand aan die einde van die toernooi, terwyl deelnemers wat die borg, Betway, se Catch Game-speel, hulle prysgeld verdriedubbel. Kommissaris Graeme Smith sê die kompetisie het ‘n integrale deel van die pawiljoen-ondervinding geword en is ‘n gunsteling onder toeskouers by die 34 wedstryde. Die eindstryd word op 25 Januarie gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-197-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-216-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….