Nuus 08:00
BULLETIN 15 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Kantoor van die Openbare Beskermer is die staat se morele kompas
# RISE Mzansi sê die polisie se Lugvleuel is in ‘n haglike toestand
# En Hamas het die liggame van nog vier oorlede gyselaars terugbesorg
# President Cyril Ramaphosa sê die Openbare Beskermer se kantoor speel ‘n belangrike rol om die verhouding tussen die landsburgers en die staat fundamenteel te verander. Hy het gisteraand die hoofrede gelewer by die Openbare Beskermer van Suid-Afrika se internasionale 30-jaar-herdenkingskonferensie in Kaapstad. Ramaphosa sê die Openbare Beskermer se kantoor was en is steeds die staat se morele kompas en voeg by dis die trots van die land se grondwetlike bestel:
# RISE Mzansi sê dis ʼn groot krisis dat slegs 11 van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se 38 vliegtuie werk. Die Polisieministerie het op ʼn vraag in die Parlement gesê 27 ondergaan tans instandhouding. Die ministerie is besig om nog 15 helikopters teen ʼn geraamde begroting van 1,1-miljard-rand aan te koop. Makashule Gana van RISE Mzansi sê die haglike toestand van die SAPD se lugvleuel voorspel niks goeds vir die stryd teen misdaad nie:
# Die EFF in Gauteng sê die skorsing van die provinsiale Gesondheidsdepartement se hoof, Lesiba Arnold Malotana, is net ʼn vertragingstaktiek om hom te beskerm en tyd te maak vir interne politieke bestuur. Sy naam word genoem in die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na tenderbedrog waarby BAS MedExpress en die Masakhane Cook Freeze Factory betrek word, en waar miljoene geplunder is deur agterafbetalings en onregmatige kontrakte. Die EFF sê Malotana se termyn was rampspoedig en hy moes lankal afgedank word.
# Hamas het gister nog vier liggame van gyselaars teruggegee. Agt van die 28 oorlede gyselaars se liggame is sedert Maandag uit Gaza teruggestuur. Die gewapende Palestynse groep het Maandag 20 lewende gyselaars en die liggame van vier vrygelaat. Hamas sê die taak word bemoeilik omdat nie al die grafte geïdentifiseer is nie. Die oorskot van 45 Palestyne is gister na Gaza teruggestuur. Israel se regering waarsku hy sal hulp aan Gaza beperk tot Hamas al die oorlede gyselaars se liggame teruggestuur het.
# Tennis: Die winsgewende Six Kings Slam met ses van die wêreld se beste spelers begin vandag in Riaad, Saoedi-Arabië. Die eerste kwarteindstryd is tussen die Duitser Alexander Zverev en die Amerikaner Taylor Fritz en die tweede tussen die Italianer Jannik Sinner en die Griek Stefanos Tsitsipas. Die twee wenners speel dan onderskeidelik teen die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, en die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Al die deelnemers aan die vertoon-toernooi sal 26,2-miljoen-rand verdien, en die wenner ‘n verdere 78,5-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-369-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-184-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….