Nuus 07:00
BULLETIN 15 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile is op ‘n werksbesoek aan Turkye
# Sokker: Bafana Bafana is op pad na die 2026 FIFA-wêreldbeker
# En Suid-Afrika word onder die wêreld se top vyf luukse reisbestemmings gereken
# Adjunkpresident Paul Mashatile is op ‘n werksbesoek aan Turkye waar hy vandag in Ankara medevoorsitter is van die Twee-nasie-kommissie tussen Suid-Afrika en Turkye. Die kommissie moet as gestruktureerde platform dien om politieke, ekonomiese en maatskaplike samewerking tussen die twee lande te bevorder en te koördineer. Mashatile reis daarna na Istanboel vir vergaderings oor ekonomiese diplomasie, en spreek môre die vyfde tweejaarlikse Turkye-Afrika Sake- en Ekonomiese Forum toe. Suid-Afrika is Turkye se grootste handelsvennoot in Afrika suid van die Sahara.
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Zuko Godlimpi, sê die Amerikaanse tarief van 30-persent bedreig ongeveer 30-duisend Suid-Afrikaanse werksgeleenthede en dekades se handelsvennootskappe. Godlimpi het tydens die Uitvoersimposium en Ekspo gesê dit is ‘n wekroep vir Suid-Afrika om sy handelstrategie te heroorweeg, markte uit te brei en veerkragtigheid te bou, terwyl hy die belofte van die Afrika Kontinentale Vryehandelsgebied verwesenlik. Hy het die land se sterk nywerhede beklemtoon en inklusiewe groei aangemoedig wat vroue, die jeug en klein besighede bemagtig.
# Die geskorste Nasionale Adjunkpolisiekommissaris Shadrack Sibiya het die ad hoc-komitee meegedeel bewerings deur die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi is deel van ‘n polisie-opvolgstryd, nie ondersoeke na politieke moorde nie. Sibiya sê die omstredenheid is daarop gemik om sy moontlike bevordering tot Nasionale Kommissaris te verhoed, ná openbare bespiegeling oor sy belangstelling in die rol. Hy het verder bewerings oor vermiste dossiere verwerp en noem dit onbelangrik aangesien dit oor ou sake gaan:
# Die DA sê die Gautengse Departement van Gesondheid en Welstand se hoof, Lesiba Arnold Malotana, se skorsing met volle betaling is nie genoeg nie en hy moet onmiddellik afgedank word. Die Spesiale Ondersoekeenheid het twee kontrakte ondersoek waar hy na bewering omkoopgeld van meer as 10-miljoen-rand met twee ander amptenare gedeel het. Madeleine Hicklin van die DA sê Malotana het jare lank hoëvlakbeskerming van premier Panyaza Lesufi ontvang, al het sy naam in vele skandale opgeduik:
# Sokker: Suid-Afrika kwalifiseer vir die 2026 FIFA-wêreldbeker in Amerika, Mexiko en Kanada ná ʼn oortuigende oorwinning van 3-0 teen Rwanda by die Mbombela-stadion in Mpumalanga. Doele deur Thalente Mbatha, die speler van die wedstryd Oswin Appollis, en Evidence Makgopa het aan Bafana Bafana die eerste plek in Groep C en ʼn outomatiese kwalifisering vir die gesogte geleentheid besorg. Dis die eerste keer sedert 2002 dat Suid-Afrika vir die Wêreldbeker kwalifiseer. Afrigter Hugo Broos sê dis ʼn wonderlike gevoel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-343-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-531-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-179-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika is in die eerste Roxstar Luxury Travel Trends Report aangewys as een van die wêreld se topvyf luukse reisbestemmings in 2025. Amerika is boaan die lys, gevolg deur die Verenigde Arabiese Emirate, die Maledive-eilande, Suid-Afrika en Frankryk. Roxstar Luxury Travel se stigter, Roxy Robinson, sê Kaapstad kombineer stedelike kultuur met van die wêreld se mooiste natuurtonele terwyl safari-vakansies in die noorde totale ontsnapping bied. Sy sê min bestemmings bied so ʼn aanloklike verskeidenheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….