Nuus 06:00
BULLETIN 15 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê korrupsie moet in die samelewing uitgeroei word
# Shadrack Sibiya beskuldig Mkhwanazi dat hy die openbare gesprek manipuleer
# En Keir Starmer sê die Gaza-vredesplan was nie moontlik sonder Trump nie
# President Cyril Ramaphosa sê die stryd teen korrupsie moet die oppergesag van die reg erken en ‘n behoorlike proses volg. Hy het tydens vraetyd in die Nasionale Raad van Provinsies die vordering uitgelig wat die Spesiale Ondersoekeenheid, die Valke en die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie gemaak het met inhegtenisnemings, vervolging en die herwinning van gesteelde bates. Ramaphosa sê enige kabinetslid wat van ‘n ernstige misdaad aangekla word, moet opsystaan tot die ondersoek afgehandel is:
# Die geskorste Nasionale Adjunkpolisiekommissaris, Shadrack Sibiya het die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi beskuldig dat hy die openbare indruk manipuleer deur met mense se koppe te smokkel. Sibiya beweer Mkhwanazi het ingemeng met ondersoeke en die publiek mislei onder die dekmantel dat Suid-Afrikaners beskerm word. Sibiya beweer verder Mkhwanazi se sosialemedia-teenwoordigheid skep ‘n vals beeld wat die polisie se integriteit ondermyn. Hy waarsku onbeheerde gedrag kan ‘n onbeheerbare mag binne wetstoepassing skep:
# Die hooflanddros van die Pretoriase Streekhof, Vusimuzi Mahlangu, wat die saak teen die hoof van die polisie se misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, aanhoor, het homself onttrek. Dit volg nadat hy gedagvaar is om voor die Madlanga-kommissie te getuig. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het aan die kommissie gesê die borgtogvoorwaardes wat Mahlangu aan Khumalo en sy medebeskuldigdes opgelê het, was buitensporig en ontwrigtend vir die werking van die polisiediens. Die Teen-korrupsieondersoekdirektoraat sê ‘n nuwe landdros sal vandag die saak oorneem.
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis sê president Cyril Ramaphosa het probeer om skadebeheer in die Nasionale Raad van Provinsies toe te pas toe hy Kaapstad se bestuursrekord geprys het. Hill-Lewis sê die stad vertoon steeds beter as die ANC-beheerde munisipaliteite, met ‘n rekordbegroting van 40-miljard-rand vir infrastruktuur, waarvan 75-persent lae-inkomste huishoudings bevoordeel. Hy voeg by dat Kaapstad boaan die nasionale ranglys is vir skoon oudits en betroubare dienslewering, wat bewys dat DA-geleide metro’s werklike vordering lewer.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het aan die Laerhuis gesê die wapenstilstand in die Midde-Ooste sou nie moontlik gewees het sonder die Amerikaanse president, Donald Trump, nie. Hy beskryf die gebeure as ‘n oomblik van groot verligting vir baie mense, al demp die wete van wat gebeur het van die verligting. Starmer bevestig Brittanje verskaf steeds hulp soos water, sanitasie en higiëneprodukte:
# Krieket: Die Proteas benodig nog 226 lopies om die eerste toets teen Pakistan in Lahore te wen. Ryan Rickelton en Tony de Zorzi sal die besoekers se tweede beurt op 51 vir twee hervat op die voorlaaste dag nadat kaptein Aiden Markram en naguiltjie Wiaan Mulder gistermiddag hul paaltjies verloor het. Die gashere het ‘n eerstebeurt-voorsprong van 109-lopies gehad, maar is op die derde dag uitgeboul vir slegs 169 toe die draaibouler Senuran Muthusamy nog vyf paaltjies ingepalm het na sy ses in Pakistan se eerste kolfbeurt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-512-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-163-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….