Eko-minuut 13:30
BULLETIN 14 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Oos-Kaapse Volhoubaarheidsforum sê die provinsie speel steeds ‘n belangrike rol in die ondersteuning van landelike voortbestaan, bioverskeidenheids-bewaring en grondherstel te midde van Suid-Afrika se sukkelende ekonomie. Die forum se sameroeper, Cobus Meiring, sê die streek se sitrusbedryf verwag vanjaar ‘n rekord-oes, wat ‘n welkome hupstoot vir die provinsiale ekonomie sal bied. Hy sê terselfdertyd presteer die natuurlewe-ekonomie steeds goed. Meiring erken dat landbou én natuurlewe-gebaseerde ondernemings toenemende uitdagings ondervind ten opsigte van klimaatsverandering.
# Die Internasionale Migrasie-organisasie eis ‘n beslissende verskuiwing in globale finansieringsvoorkeure en waarsku dat toenemende rampe en klimaatsgevolge rekordvlakke van ontheemding veroorsaak. In 2024 alleen is byna 46-miljoen mense deur rampe ontwortel, die hoogste aantal ooit aangeteken. Volgens die organisasie het aardbewings, oorstromings, storms, droogtes en hittegolwe die afgelope twee dekades 95-persent van die regstreekse koste uitgemaak. Die organisasie vra wêreldleiers om menslike beweeglikheid by risiko-ingeligte ontwikkeling en klimaatsfinansiering te integreer, om te verseker dat gemeenskappe kan aanpas wanneer rampe tref.
# En ten slotte: Die Banhine Nasionale Park in Mosambiek, wat deur oorlog en stropers vernietig is, gaan tot sy volle glorie herstel word. Byna 400 diere soos sebras, wildebeeste en wildsbokke is uit die Maputo Nasionale Park in Banhine hervestig as deel van ‘n groot rehabilitasieprogram. Die park is deel van die Groter Limpopo-oorgrenspark wat Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe verbind. Bewaringsgesindes hoop toerisme en bioverskeidenheid sal binnekort weer gedy.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….