Nuus 13:00
BULLETIN 14 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie keur ‘n afstands-getuienisooreenkoms goed om veiligheidsredes
# Brittanje se werkloosheidsyfer styg tot 4,8-persent – die hoogste in vier jaar
# En krieket: Botham is bekommerd oor Engeland se gebrek aan voorbereiding vir die As
# Die Madlanga-kommissie het ‘n ooreenkoms tussen getuienisleiers en prokureurs vir News24 en Daily Maverick aanvaar dat getuie een, Mnr X, vandag en môre om veiligheidsredes van ‘n afstand af en sonder kameras sal getuig. Getuienisleier Matthew Chaskalson sê vandag se getuienis sal verklarings en bewysstukke soos WhatsApp-gesprekke op die skerm vertoon. Die kommissie se voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, het die reëling bevestig en bygevoeg die finale uitspraak oor die oorblywende getuies sal op 23 Oktober gelewer word:
# ActionSA vra die onmiddellike vrystelling van die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag oor die Universiteit van Fort Hare. Visekanselier Sakhela Buhlungu glo verlede week se gewelddadige betogings was ‘n poging om die vrystelling van die verslag te vertraag, waarby 33 hooggeplaaste politici by akademiese bedrog by die universiteit betrek word. Matthew George van ActionSA sê mense het die reg om te weet wie ‘n geskiedkundige instelling vir persoonlike en politieke gewin gemanipuleer het:
Nuus uit die buiteland:
# Brittanje se werkloosheidsyfer het tot die hoogste vlak in meer as vier jaar gestyg, wat bydra tot die ekonomiese druk voor die jaarlikse begroting. Die koers het 4,8-persent bereik in die drie maande tot einde Augustus, die hoogste vlak sedert die eerste helfte van 2021. Hierdie is in vergelyking met werkloosheid van 4,7-persent in die drie maande tot einde Julie. Die data volg terwyl Brittanje worstel teen stagnante groei en hardnekkige hoë inflasie, ongeveer ses weke voor die Arbeidersregering sy nuutste belasting- en bestedingsplanne moet uiteensit.
# Krieket: Die voormalige Engelse ster-speler Ian Botham is bekommerd oor sy land se gebrek aan behoorlike voorbereiding vir die reeks om die As teen Australië, wat op 21 November in Perth begin. Hy sê dit grens aan arrogansie terwyl hulle in 2011 laas ‘n toets in Australië gewen het. Engeland sal voor die reeks net ‘n driedaagse oefenwedstryd teen die Engelse Leeus-toerspan in Perth speel. Botham sê die toeriste moet gewoond raak aan die weer, die kolfblaaie, die teenstanders en die skares wanneer hulle teen ‘n hele land speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-808-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-138-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-66-sent per vat.
# En laastens: Die Banhine Nasionale Park in Mosambiek wat deur oorlog en stropers vernietig is, gaan tot sy volle glorie herstel word. Byna 400 diere soos sebras, wildebeeste en wildsbokke is uit die Maputo Nasionale Park in Banhine hervestig as deel van ‘n groot rehabilitasieprogram. Die park is deel van die Groter Limpopo-oorgrenspark wat Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe verbind. Bewaringsgesindes hoop toerisme en bioverskeidenheid sal binnekort weer gedy.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….