Nuus 11:00
BULLETIN 14 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beantwoord vandag vrae in die Nasionale Raad van Provinsies
# Die VN sê voldoende lewensreddende voorrade stroom in na Gaza
# En sokker: Bafana Bafana se afrigter sê dit is nie nou die tyd om in hul vermoëns te twyfel nie
# President Cyril Ramaphosa sal vanmiddag vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord, met die fokus op onder meer dienslewering en nywerheids-herlewing. Die Presidensie sê Ramaphosa sal die kwessie van misdadigheid en korrupsie aanroer, en die regering se planne uiteensit om die spoorwegsektor te laat herleef, wat sal bydra tot werkskepping en ekonomiese groei. Die Presidensie sê hy sal ook meer inligting verskaf oor die status van Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel voor die Internasionale Geregshof.
# Solidariteit verwerp die regering se voorneme om belastingkrediete van mediese fondslede te gebruik om die Nasionale Gesondheidsversekering te befonds. Die Departement van Gesondheid praat met die Nasionale Tesourie oor veranderings aan die mediese fonds-belastingkredietregime in ‘n poging om ‘n bykomende 34-miljard-rand vir die NGV te bekom. Die departement se ander befondsingsmeganismes is die herleiding van begrotings en bykomende belasting. Theuns du Buisson van Solidariteit sê die maatreëls sal mediese fondslede ontneem van geld wat regmatig aan hulle behoort:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het die hoof van die provinsiale Departement van Gesondheid en Welstand, Lesiba Malotana, met onmiddellike ingang geskors. Die DA het verlede jaar geëis dat Malotana verwyder word ná die Spesiale Ondersoekeenheid se bevinding oor twee kontrakte waar hy na bewering omkoopgeld van meer as 10-miljoen-rand met twee ander amptenare gedeel het. Die provinsiale regering se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê Darion Barclay is aangestel as die departement se waarnemende hoof:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake sê genoeg noodsaaklike voorrade kom nou Gaza binne. Dit volg nadat die eerste fase van die vredesooreenkoms ingestel is waarna die laaste 20 oorlewende Israelse gyselaars in Gaza vrygelaat is. Een-duisend-718 Palestynse aangehoudenes is uit Israel na Gaza teruggestuur. Die VN-kantoor sê hy het Israel se goedkeuring om 190-duisend ton kos, skuilingvoorraad, medisyne en ander voorrade by die Gaza-strook in te neem. Dis 20-duisend ton meer as waarop voorheen ooreengekom is.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê sy spelers is geestelik voorberei vir vanaand se moet-wen Wêreldbeker-Groep C-kwalifiseerder teen Rwanda in Mpumalanga. Suid-Afrika het Vrydag sonder doele gelykop gespeel teen Zimbabwe en moet Rwanda nou klop en hoop Nigerië verslaan Benin om outomaties te kwalifiseer vir volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika. Broos sê hy het volle vertroue in sy spelers dat hulle die wedstryd gaan wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-51-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-106-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….